OORTREDERS HARDLOOP NA REHABILITASIE

SASOLBURG. – Die reuk van Deep-heat, ywerige atlete en gewapende wagte is nie ‘n kombinasie wat gewoonlik by die DP de Villiers stadion in Sasolburg saam beleef word nie, maar op 28 Januarie het die Streeks-oortreder Atletiekkampioenskappe 2014 hier plaasgevind. Die kampioenskappe waarby alle gevangenisse in die Vrystaat/Noord-Kaap streek betrokke was, is aangebied deur die Sasolburg Gevangenis onder die Groenpunt Bestuur Area. Opgewonde oortreders van sover as Colesberg en Upington het gekom om hierdie dag saam met 310 oortreders aan die byeenkoms deel te neem. Groenpunt self het 25 fikse atlete in verskeie baan en veld items gehad op die dag. Atlete kon deelneem aan lang/kort afstande, hoogspring, verspring, spiesgooi, diskus en gewigstoot. Al die atlete wat goed gevaar het op hierdie dag sal op 20 en 21 Februarie aan die Nasionale Oortreders Atletiek Kampioenskap in Mafikeng deelneem. Bo-en-behalwe die medaljes en deelname aan die Nasionale byeenkoms, was hierdie ook ‘n heerlike uitstappie vir die oortreders. Die tema van die byeenkoms was “Rehabilitation Through Sports & Recreational Development ” en slegs oortreders wat byna hulle vonnis klaar uitgedien het en wat die rehabilitasie programme in hul gevangenisse voltooi het, kon aan hierdie kampioenskappe kom deelneem. Sekuriteit was natuurlik ook bitter goed georganiseer op die dag om seker te maak dat absoluut niks skeef loop nie. Wat dit net soveel lekkerder gemaak het is die feit dat die tronkbewaarders amper meer opgewonde was as die atlete en hul atlete met uiterste geesdrif aangepor het.

Source: vaalweekblad.com