Stres kry gedurig die skuld vir meeste siektes en skete wat ons bekruip. Voor jy dus jou apteker of dokter vra, kyk eers of jy nie dalk self agter die kap van die byl kan kom nie. Ons is bekend met die algemene simptome van stres, soos slaap-loosheid, pyn op jou bors, prikkelbaarheid, depressie ens.
Daar is egter ‘n paar ander tekens van stres wat ons moontlik miskyk!
Die volgende lysie kan jou help om te bepaal of jy siek is, en of jy net bloot te veel hooi op jou vurk het:
Besluitloosheid: As jy sukkel om te konsentreer, vergeetagtig is, of dit moeilik vind om ‘n eenvoudige besluit te neem kan dit ‘n teken van onderliggende stres wees. Neem kort pouses sodat jy jou gedagtes kan herorden.
Hou jou hand voor jou mond: As jy baie gaap, maar jy het genoeg geslaap, kan dit ‘n teken wees dat jy as gevolg van spanning, nie genoeg suurstof inneem nie. Jy haal dus vlak asem. Let daarop om diep in en uit te asem, en let op jou postuur wanneer jy voor jou rekenaar sit.
Iets ruik snaaks: ‘n Hormonale gevolg van stres is dat jy oormatig sweet sonder enige liggaamlike inspanning of oefening. Jy sweet gewoonlik dan onder jou arms en dit is meer onwelriekend as sweet op ander dele van jou liggaam. Vra jou apteker vir ‘n sterk sweetweerder as dié op die winkelrak nie meer wil help nie. Daar is ook oor die toonbank medikasie hiervoor beskikbaar.
Kurktong: Nog ‘n teken van stres is ‘n droë mond. Dit veroorsaak dan ook ‘n slegte asem. Borsel en vlos gereeld jou tande, en drink genoeg water. Dit help ook om ‘n stafie kougom in jou laai te hou.
Eina! As jou spiere styf en seer is sonder dat jy ‘n goeie sessie in die gim gehad het, moet die gevaarligte vir jou flikker. Let op jou postuur wanneer jy sit, en probeer ‘n lang warm bad vat as jy kans kry! Gooi bietjie Arnica-olie by jou badwater. ‘n Seer lyf of spiere kan ook die eerste simptome van griep of verkoue wees!
Winde opbreek: As jy konstant winde opbreek, kan dit ‘n teken wees dat jou spysverteringskanaal omgekrap is as gevolg van stres. Probeer jou kaffeïne-inname verminder, en vermy gaskoeldrank en alkohol. Moenie jou drankie met ‘n strooitjie drink nie.
Dit kapok! Stres val jou imuunstelsel aan wat veroorsaak dat jou kopvel baie meer vatbaar is vir hardnekkige swamme. Skilfers kan dus ook dan ‘n teken van stres wees. Dra maar liewers ‘n wit hemp, en gooi bietjie teeboom- of laventelolie in jou afspoelwater.
Onwillige marionet: As jy aan rustelose-bene sin-droom ly, kan stres dit beslis vererger. Drink magnesium-aanvullings, en as dit nie werk nie, vryf jou bene goed in met Arnica-olie of enige ander vlugtige salf of room. Doen dit net voor slaaptyd, en fokus op jou knieë en die waai van jou bene. Die gim is natuurlik die beste oplossing vir hierdie probleem.
Stres jouself vetter: ‘n Mens sou noodwendig dink dat stres gewigsverlies veroorsaak, maar dit kan ook verantwoordelik wees vir die toename daarvan! Die streshormoon cortisol kan veroorsaak dat vet rondom jou middel aan pak! Sluit aan by jou naaste gimnasium, of probeer draf of stap. Daar kan nog baie ander tekens van onderliggende stres wees wat nog nie bepaal is nie, maar soos hulle sê: voorkoming is beter as genesing! Om te keer dat jy aan onderliggende stres ly, is dit belangrik dat jy genoeg tyd maak vir ontspanning. Ontspanning beteken nie noodwendig ‘slaap’ nie.
Bring tyd saam met jou gesin deur, lees ‘n boek, of kuier saam met vriende. Kry ‘n stokperdjie. Aktiwiteite wat handwerk verg, is die beste. Tuinmaak, naaldwerk, bak, houtwerk of skilder is goeie voorbeelde hiervan. Dan moet jy ook natuurlik sorg dat jy jou dieet dophou, nie net vir jou gewig nie, maar om seker te maak dat jy al die nutriente inneem wat jou liggaam nodig het om te funksioneer.
Ongelukkig maak dit nie saak hoeveel jy ontspan of hoe gesond jy eet, as jy dit nie met ‘n goeie oefenprogram kombineer nie. Nie almal van ons het die tyd of die finansies om by ‘n gim aan te sluit nie, maar om saans om die blok te gaan draf, vinnig te stap of net bal te speel saam met jou kinders, sal help om onderliggende stres te bekamp! So ontspan, haal diep asem en hou op stres oor onderliggende stres!
Bron: vaalweekblad.com