Rugby Fabriek goed ge-olie

Stephan de Wit (Goue Leeus o/19) en Franco Marias (Sharks o/19) saam met hulle mentor Jaco Kock, afrigter van die Hoërskool Transvalia se eerste rugbyspan

VANDERBIJLPARK. – Die Vaaldriehoek se rugbyfabriek se vermoë om “rou materiaal” in prima uitvoerprodukte te omskep, is byna onverbeterlik.
Slegs ‘n dwaas sal waag om daarteen te stry. Sonder om te veel te spook, kan mens die name van Springbok- en provinsiale rugbyhelde soos Francois Pienaar, Bakkies Botha, JanoVermaak en Shaun Sowerby opnoem. Maar dit eindig nie hier nie… Die nuwe ge-nerasie rugby-adel is besig om die rugbyleer een sport op ‘n slag te klim en binnekort kan die name van Franco Marais (haker), Stephan de Wit (flank) en Neil Snoer (stut) huishoudelike name word.
Al drie van hulle is oud-leerlinge aan die Hoërskool Transvalia en het vanjaar met onderskeiding Curriebeker-rugby onderskeidelik vir die Sharks, Goue Leeus en Westelike Provinsie se o/19-spanne gespeel.
Marais het homself verlede week by ‘n uitgelese groep aangesluit, toe hy die Suid-Afrikaanse o/20-oefengroep van 48-spelers gehaal het. Dit is die groep waaruit die Baba Bokkies se uiteindelike span gekies gaan word, wat in Junie aanstaande jaar op tuisbodem aan die Internasionale Rugby Raad (IRR) se o/20 Wêreldtoernooi gaan deelneem.
 Die oefengroep kom op 27 November in Stellenbosch vir ‘n oefenkamp bymekaar.

Wat die prestasie merkwaardig maak, is die feit dat Marais as baba amper verdrink het en lank in ‘n koma was. “Ek was redelik geskok dat ek die SA o/20-oefengroep gehaal het. Ek was die seisoen nie tevrede met my spelpeil in die Curriebeker nie. Ek was ook nie op vorm toe ons van vakansie af teruggekom het nie. Hierdie is die regte sielkundige inspuiting vir my,” sê Marais wat homself tans as vlieënier naby Virginia bekwaam.
De Wit is op sy beurt een van die Leeutrop se opkomende sterre en sy vernuf en harde werk op die rugbyveld is ook beloon toe hy vroeër vandeesmaand deur die Leeus se breier, John Mitchel, nadergetrek is om saam met die Lions se Superrugby-oefengroep te oefen. Die Lions begin eerskomende Donderdag met hulle voorbereiding vir die moordende Superrugby-reeks.
 Na die Lions se droomseisoen en die gepaardgaande verowering van die gesogte Curriebeker, word daar asem opgehou, oor wat die Lions in aanstaande jaar se Super-kompetsie gaan vermag.
“Dis ‘n awesome ervaring om deel te wees van die Leeus se opset. Ek kyk veral op na Derrick Minnie. Hy is ‘n inspirasie vir almal by die Leeus. Ons is na die Curriebeker-eindstryd bymekaar geroep en die elite groep vir die Superrugby-reeks se name is bekendgemaak. Ek is teleurgesteld dat ek nie die SA o/20-groep gehaal het nie, maar ek gaan harder werk. Mens stel volgens ander mense soms te hoë doelwitte vir jouself, maar ek glo daaraan,” sê De Wit, wat homself aanstaande jaar deur Unisa as ‘n chemiese ingenieur wil bekwaam. 

Snoer, voorryman van die, WP se o/19s-span, het ook onlangs ‘n vroeë Kersgeskenk gekry toe hy vir Maties se o/20-Varsity Cup span gekies is.
“Ek is Stellenbosch toe om B.SC te swot, nie om rugby te speel nie. Ek het eerstejaar-rugbygespeel en daarna Maties- en WP-proewe gehaal. Ek het nie verwag om die Varsity Cup se span te haal nie, maar ek het diep binne gehoop. “Nou wil ek myself in die o/20-groep inspeel. Die infrastruktuur by die WP is ongelooflik, maar as jy nie hier skoolgegaan het nie, moet jy ekstra hard werk. Dit is ‘n groot sprong van skolerugby. Dit was nogal lekker om teen Fanco en Stephan te speel. Dis lekker om te sien dat jou vriende presteer,” sê Snoer.

Benewens die feit dat dat hulle saam op die skoolbanke gesit het, het hulle nog ’n belangrike faktor in gemeen in die vorm van Jaco Kock, afrigter van die Hoërskool Transvalia se eesrte rugbyspan. Kock het ‘n beduidende invloed op die jong manne se vormingsjare as rugbyspelers gehad en hy kan met goeie rede breëbors rondloop.
“Franco, Neil en Stephan se werksetiek is uitstekend. Hulle lewenstyl is “skoon” en ek weet hulle gaan dit nog ver maak. Daar is baie goeie rugbyspelers daar buite, maar dié drie manne het hulle geleenthede aangegryp,”  gee Kock te kenne.
 Die driemanskap is egter nie die enigste Valia-manne wat opgang maak nie. Andre Nel (Border Bulldogs Curriebeker o/19), DJ Oosthuizen (Goue Leeus Curriebeker o/19), Emile Laubscher, Johan van Tonder en Carlile van der Walt  (al drie lede van die Valke Curriebeker o/19-span) het almal hulle merk op provinsiale vlak gemaak. 
Bron: vaalweekblad.com