RIEMLAND ECO-PARK SE NUUTSTE INWONERS DAAG OP

Die Riemland Eco-park in Vaalpark het onlangs twee kameelperd-kalfies ryker geword. Hulle is met groot sorg in die park losgelaat

SASOLBURG. – Die Riemland Eco-park in Vaalpark is twee kameelperd-kalfies ryker. ‘n Jong bul en koei het op 17 November hul langverwagte aankoms in die park gemaak. Met die nuwe toevoeging sal die park, wat reeds sowat 1 000 besoekers per maand ontvang, beslis meer mense lok.
In die oorweging van die bekendstelling van kameelperde in die park het Sasol die Vrystaat Natuurbewaring en die Universiteit van Pretoria genader om ‘n weidings- en infrastruktuur-assessering te doen. Hulle het bevind dat die Riemland Eco-park infrastruktuur voldoende is om ‘n maksimum van drie kameelperde te onderhou.
“Vroeër vanjaar het Sasol 200 stuk wild van sy 1 026 hektaar natuurbewaringsgebiede in Sasolburg verkoop om die wild te verminder en in lyn te bring met die gemodelleerde drakrag van die grond en toe te laat vir die bekendstelling van nuwe bloed. Inkomste uit die wildverkope het dit vir ons moontlik gemaak om die twee kameelperde te koop,” sê Sasol Infrachem MD, Bongani Mabaso.
Die Riemland Eco-Park het benewens die verskillende spesies van inheemse hoëveld plantspesies, ook elande, sebras, rooihartbeeste, waterbokke, gemsbokke, bontebokke, springbokke, rietbokke, rooibokke, duikers en swartwildebeeste.
Siende dat die park so ‘n gewilde plek is vir besoekers, het Sasol onlangs die fasiliteite van die park opgradeer. Addisionele braai-fasiliteite is by die lapa-gebiede gebou en daar is oral deur die park sementtafels en stoele geplaas om natuurliefhebbers se piekniekervaring beter te maak.
Besoekers aan die park kan die wild te voet, kar of op ‘n bergfiets besigtig. Om die kameelperde aan hul nuwe omgewing gewoond te maak, is die Eco-Park gesluit tot en met 2 Desember. Vanaf 3 Desember sal die park oop wees vir besoekers.
“Die Riemland Eco-Park is elke naweek asook openbare vakansiedae oop vanaf 6:00 uur tot 18:00. Neem asseblief kennis dat al die diere in die park wilde diere is en dat jy ten alle tye ‘n veilige afstand moet behou. Dit is om enige beserings aan mens of dier te voorkom. Die park het ook reëls en mense word gevra om asseblief ten alle tye daarby te hou,” sê Mabaso.
Bron:  vaalweekblad.com