Volharding is die sleutel tot sukses

MEYERTON. – Die term aanhouer wen is een waarmee Shanie Opperman baie vertroud is. Dié leerling aan die Laerskool Republiek in Rothdene het onlangs nie toegelaat dat enigiets haar onder kry, toe sy tydens die Suid-Afrikaanse laerskole atletiekkampioenskap ‘n goue medalje in die gewigstoot vir d.o/12 met ‘n puik stoot van 11.10 m verower het.

Maar maklik was die roete tot sukses nie. Sy het vroeër vanjaar vir die D7 kampioenskap in drie items (verspring, hoogspring en gewigstoot) gekwalifiseer.

By die Gauteng Kampioenskap het sy ‘n sesde plek in die verspring en ‘n derde plek in die gewigstoot behaal. Sy was teleurgesteld, maar het daarna bloed gesweet op die oefenbaan en uiteindelik die vrugte gepluk.

Benewens haar atletiektalente is sy ook ‘n bedrewe hokkiespeler wat onlangs die D7-span gehaal het en aan die Gauteng-Suid hokkie-proewe deelgeneem het.

Bron: vaalweekblad.com