Die Sonic se stilering beïndruk uit die staan-spoor. Hy het ‘n sterk neus en ligte wat van die kant af veral aan die Lumina herinner, en ‘n vorm wat voorgee dat dit ‘n tweedeurmotor is, terwyl die agterdeure se handvatsels diskreet agter die deure in die bakwerk versteek is. Dit is van die kenmerke wat hierdie motor besonders maak. Effens getinte ruite verbeter die privaatheid van die agterste passasiers en 15″-allooivellings rond die prentjie af. En dit als in ‘n luikrug-motortjie!
In die kajuit beïndruk die nuweling verder. Die motor is verbasend ruim, selfs vir ‘n groot ou soos ek, en die stuurwiel kan verstel word vir optimale gemak. Die instrumentepaneel is vars, modern en sportief, met ‘n analoog toereteller en digitale spoedmeter.
Daar is elektriese ruite voor, elektries verstelbare spieëls, lugversorging, misligte en ‘n klankstelsel met Bluetooth, Aux- en USB-konneksies. Boonop het die Sonic spoedbeheer. Die spoedbeheer, klankstelsel en Bluetooth-telefoonstelsel kan alles vanaf die multifunksie-stuurwiel beheer word. Die voorste passasierlugsak kan ook afskakel vir ma’s wat ‘n babastoeltjie op die voorste sitplek wil vasmaak. Die bagasiebak bied oorgenoeg ruimte en bevat ook die vol-grootte-noodwiel.
In die verkeer bestuur die Sonic lekker lig, en selfs op die lang pad was die motortjie met sy spoedbeheerfunksie ‘n plesier om te ry. Die Sonic sal beskikbaar wees met enjins wat wissel van 1.2 tot 1.6 liter. Na gelang van die model wissel die gemiddelde brandstofverbruik tussen 5 liter en 7 liter per 100 km. Die motor is lewendig, en selfs die stadigste 1.2 “detuned”-model het ‘n topspoed van 162 km/h, meer as voldoende vir ‘n motor van dié grootte.
Die Sonic behoort van hierdie maand af in die mark beskikbaar te wees, net betyds vir ‘n lekker Kersgeskenk vir jouself, jou vrou of jou studentekind. Pryse is nog nie bekend nie, maar te oordeel aan die Sonic se prys in ander markte behoort hierdie ‘n luukse en ekono-miese waarde-vir-geld opsie te wees.
Die Chevrolet-kenteken is kleiner en meer diskreet as wat met sommige vorige modelle die geval is, maar Chevrolet gaan met hierdie produk breëbors rondloop. Daar’s in nuwe speler in die mark, en hy is Super-Sonic!
* Johann van Tonder is ‘n motorjoernalis wat ook gereeld vir nasionale publikasies skryf en voortaan ook gereeld motors vir Vaalweekblad gaan toetsbestuur.
Bron: vaalweekblad.com