Mooivaal Media vereer met toekenning

VANDERBIJLPARK.- MooiVaal Media is verlede week deur die Rotaryklub Vanderbijlpark met die gesogte internasionale Paul Harris-toekenning vereer vir uitmuntende diens wat in die afgelope vyf jaar aan die gemeenskap gelewer is.
Buiten Vaalweekblad en Ster het nog vyf rolspelers in die omge­wing die prestige Paul Harris-toekenning ontvang. Die oorhandiging het saamgeval met die inhuldiging van prof. Pierre Lucouw as die Rotary-klub se president vir 2011/12.
Vaalweekblad en Ster is vereer vir dié publikasies se betrokkenheid as mediaborge by verskeie Rotary-projekte en publisiteit aan die tak se uitgebreide werksaamhede.
Toekennings is ook gedoen aan Stonehaven on Vaal (diens en ondersteuning aan Rotary-aktiwiteite), Petro Bester (langtermyndiens in die klub), Justus van der Merwe (uitmuntende diens in die jeugportefeulje), Mustek Limited (bystand en ondersteuning met Rotary-projekte) en Hugh Fraser (redakteur van Ingot, die klub se maandelikse nuusbrief).
Volgens mev. Elsa Venter, uittredende president, is die waarde wat die Rotary-organisasie in die gemeenskap toevoeg, van groot waarde. “Ons lede beywer hulle vir die gemeenskap se vooruitgang. Elkeen het die afgelope jaar sy deel gedoen en hard gewerk aan verskeie projekte.Van die hoogste erkennings gaan aan Rex Anderson en Derrick Page vir hulle aandeel in die aanbou van toilette by die Dinokeng-skool op die Marlbank-pad. Uitstekende diens is ook verrig deur Ricky Senekal van Vesco-gemeenskapsdienste. Ek bedank elkeen vir ‘n wonderlike jaar met baie hoogtepunte,” het sy gesê.
Die klub vergader Donderdae om 07:00 met ontbyt by die Koffie­plaas.
Bron:  Vaalweekblad