DIE WAARHEID AGTER SOS FIN. SOL. SE SLUITING

VANDERBIJLPARK. – “Ek werk my lewe lank reeds met mense se finansies en het nog nooit enige probleme gehad nie.”

So sê mev. Susan van Dyk, na ‘n berig in Vaalweekblad, “Credit regulator strikes counsellor off register,” wat in die uitgawe van 8 tot 10 Februarie verskyn het.
In ‘n persoonlike onderhoud met Vaalweekblad het sy gesê sy moes onlangs haar onderneming, SOS Financial Solutions, se deure sluit nadat haar registrasie by die Nasio-nale Kredietreguleerder (NKR) opgeskort is.
Dit is gedoen nadat daar glo klagtes van kliënte ontvang is oor die wyse waarop sy haar onderneming bedryf het.
“Daar is nie 400 klagtes soos beweer word nie. Daar was slegs drie. ‘n Inspekteur van die NKR het my kantoor besoek en het versoek dat ek nog twaalf kliënte se lêers aan hom moes oorhandig. Ek het self die lêers gekies en fotostate gemaak.
“Ek het reeds in 2002 begin met my onderne-ming. Alles het goed verloop en ek het baie kliënte gehelp om hul finansies weer in orde te kry.
“Ons het wel klein probleempies gehad, maar kon dit hanteer. Die betrokkenheid van die NKR het alles deurmekaar gekrap. Hulle was veronderstel om ons te help, maar die kere wat ons hul hulp nodig gehad het, het hulle nie op ons navrae gereageer nie,” sê sy.
Volgens mev. Van Dyk was baie van haar kliënte ontevrede oor die hoë prokureursfooie wat hulle moes betaal.
“Daar moet in gedagte gehou word dat die NKR nie prokureurs wat teen verlaagde fooie werk, aan hierdie kliënte beskikbaar stel nie,” sê sy. Sy het voorts gesê die NKR het haar by die tribunaal aangekla op sake van ten minste vier van die 15 wat reeds suksesvol deur die hof was.
“Terwyl die tribunaal besig was met die saak, moes ons steeds ons ou kliënte help, maar is verbied om nuwe besigheid in te neem. Dit het vir drie tot vier maande gesloer. My personeel moes steeds salarisse ontvang en die ander uitgawes moes ook gedek word, hoewel daar geen inkomste was nie.
“Ek moes dus al my personeel laat gaan. Die meeste van hulle het gesinne om te onderhou. Ek moes ook reëlings tref om kontrakte te kanselleer soos byvoorbeeld telefone, faksmasjiene, ens.
“Die NKR het my in ‘n kontrak met die Publieke Distribusie Agentskap (PDA), wat die fondse na die skuldeisers versprei het, gedwing, wetend dat hulle my onderneming wil toemaak, wat ek nie glo wetlik was nie.
“Die NKR vereis ook dat ek alle geld wat ek sedert 2007 ingekry het, moet terugbetaal. Hoe kan ek dit doen as daar salarisse, huur en ander uitgawes daarmee betaal is? Enige persoon wat sake doen, weet dat dit baie onredelik is.
“Van die tien persent kommissie wat ons ontvang het, is vyf persent vir die verspreiding van gelde (bv. onder meer bankkoste), aangewend. Die ander vyf persent is gebruik vir nasorgdiens aan kliënte.
“Ek voel dat die NKR meer hulp en bystand aan hul skuldberaders en kliënte behoort te verleen, bedoelend as ‘n skuldberader foute maak, die NKR sal help om dit reg te stel, in plaas daarvan om hulle te vernietig en te verneder.
“Dit is kommerwekkend dat daar sowat
1 500 skuldberaders by die NKR geregisteer is, waarvan slegs sowat 400 praktiseer,” sê sy.
Bron:  vaalweekblad.com