SKENKING ’N GROOT HULP VIR SENTRUM SE GROENTETUINE

Gary Westwood van Epilepsie Suid-Afrika se Vrystaat/Noordwes-sentrum, saam met Zuleika Viljoen, takbestuurder vir Highveld Hose Vereeniging, by van die tuintoerusting en toebehore wat verlede week aan die sentrum oorhandig is. By hulle is van die sentrum se inwoners wat help met die groentetuine.

Epilepsie Suid-Afrika se Vrystaat/Noordwes-sentrum in Parys het die afgelope week ’n skenking van nagenoeg R12 000 se tuintoebehore en gereedskap van Highveld Hose (Chick Henderson) se Vereeniging-tak ontvang vir sy eie en gemeenskapgroentetuine.

Onder die gereedskap en tuintoebehore was onder meer gieters, tuinslange, klampe en koppelstukke vir die tuinslange. Die skenking is moontlik gemaak danksy ’n vennootskapooreenkoms tussen die sentrum en Highveld Hose vir sosiale ekonomiese ontwikkeling wat hier gedoen word as deel van die onderneming se BBBEE gradering.

Epilepsie Suid-Afrika se Vrystaat/Noordwes-sentrum het tans 29 groentetuine in die gemeenskap asook ’n groentetuin vir die sentrum vir eie gebruik. Die 29 gemeenskapsgroentetuine is uitsluitlik begin vir werkskepping en selfonderhouding by onder meer kerke, kleuterskole en vrouegroepe in die gemeenskap. Hiermee het die sentrumpersoneel en inwoners hul kennis en vaardighede teruggeploeg in die gemeenskap nie net om mense te leer om die groentetuine te maak en instand te hou nie, maar ook hoe om die groente te verwerk.

Source: www.parysgazette.co.za