Hoekies gedy, geel bulle gly

VEREENIGING. – Daar is die naweek tydens die NWU Puk Prestige-reeks agterstewes geskop en name gevat.
Die Hoër Tegniese Skool Vereeniging het Saterdag op sy tuisveld, en met hulp van ‘n handvol omliggende skole (Drie Riviere, Vereeniging en Driehoek) en die Isak Steyl-stadion, die halfeind­ronde van dié reeks met onderskeiding aangebied.
Dit is die eerste keer dat daar van skolegeriewe gebruik gemaak is om die 16 skole se wintersport-spanne te akkommodeer. Daar was natuurlik ongelowige Thomasse, maar na dese kan niemand ‘n vinger wys nie.
Die Geel Bulle se eerste rugby-span het voorts nuwe betekenis aan die woorde veggees en deursettingsvermoë gegee, toe hy net-net met 22-17 deur Noordheuwel geklop is.
Die Tekkies was stadig uit die wegspringblokke en het met rustyd met 17-0 agtergeloop, maar het in die tweede helfte karakter gewys en strate beter gespeel. Om sake te vererger was die drieë wat die besoekers gedruk het sagte drieë.
Tekkies se JP Campher het in die tweede helfte twee gaan druk en die woelige losvoorspeler, Junius Deysel, se harde werk is ook met ‘n vyfpunter beloon. Dwayne Engelbrecht het met een doelskop geslaag om die tuisspan binne trefafstand te hou.Volgens Hannes Grobbelaar, afrigter van die HTS Vereeniging se eerste rugbyspan, was dit van begin tot einde ‘n klipharde kragmeting. “Ons het net nie “opgedaag” in die eerste helfte nie.

Hulle (Noordheuewel) het al die speelwerk in die eerste helfte gedoen en besit beheer. Hulle het ons met hoë tempo rugby in die eerste helfte geslaan. In die tweede helfte was dit egter ons beurt,” het Grobbelaar gesê. Benewens die Tekkies se eerste en derde spanne wat verloor het, het al sewe sy ander rugbyspanne koning gekraai.Die Hoërskool Driehoek se eerste rugby­span het behoorlik gepronk toe hy sy eweknie, die Hoërskool Bastion, met 26-0 geklop het.

Die telling kon selfs hoër gewees het, indien die Hoekies hulle geleenthede benut en beter afgerond het. Die eerste rugby­spanne van die Hoërskool Garsfontein en Middelburg kom op 5 Mei in Potchefstroom teen mekaar in die eindstryd te staan.
Garsfontein het Hugenote met 54-0 verniel en is die gunsteling om die titel te wen. Met Johan Ackerman, voorspeler-afrigter van die Lions Super-rugbyspan, wat Garsfontein help brei, is dit geen verrassing dat dié span so goed presteer nie.
*Die Hoërskool Transvalia het Saterdag in Pretoria in die NuPower/Tuks-reeks vir Pie­tersburg met 28-3 geklop. In die Puk 16-reeks het Overvaal net-net met 22-18 teen Pretoria-Noord vasgeval. Die uitslae van die Super12-reeks wat by die Hoërskool Dr. Malan plaasgevind het, is teen druktyd nie ontvang nie. Die onus berus by skole om die uitslae aan Vaalweekblad te stuur.

Bron: vaalweekblad.com