MEYERTON – Die jaarlikse Wine and Food Lover’s Picknic wat onlangs by die Henley-Gastehuis van Junel Vermeulen, bekende in wynkringe, gehou is, was weer eens n groot sukses.
Be Different bied elke jaar die geselligheid in Henley-on-Klip aan ten bate van Huis Meyerton Tuiste vir bejaardes.
Vanjaar kon besoekers wyne van Argentinie, Chili en Brazilie proe, asook natuurlik Suid-Afrika se top wyne.
Kaasliefhebbers is bederf met die keuse van bokkaas vanaf die Wes-Kaap en heerlike ander kleure en geure.
Daar was ook watertand olywe, oesters en ander lip-lek-lekkertes om te proe en te koop. n Minimale ingangsfooi is gevra, en op die manier word fondse vir Huis Meyerton ingesamel.
Huis Meyerton is ook by die piekniek verteenwoordig met n kosstalletjie wat ekstra fondse vir hulle genereer. Lewendige vermaak is deur Steve van Deventer verskaf. Mense het hul tuisgemaak op die terras-heuwels van Junel se tuin en sommer lekker gekuier en ontspan.
Melody Barber van Be Different wil graag almal bedank wat die dag ondersteun het en elkeen wat n bydrae gelewer het om die dag n sukses te maak.
Nuusbron: Mooivaal Media – Ster