VANDERBIJLPARK. –
Die Vaaldriehoek se kraanwater wat deur Rand Water verskaf word, is suiwer en veilig om te drink. Hoewel die gehalte van Vaaldriehoekse spruit- en rivierwater plek-plek glad nie aan die departement van waterwese en bosbou se standaarde voldoen nie, het geen gevalle van cholera weens besmette water in ons gebied, tot dusver voorgekom nie. Dit is die goeie nuus. Die slegte nuus is dat sekere watergebiede in die Vaaldriehoek steeds uiters toksies is en ernstige siektes kan veroorsaak – sonder dat watersportgeesdriftiges dit besef. D¡t is van die feite wat verlede week deur adv. Lotter Weppener, voorsitter van Save the Vaal Environment (Save) aan lede van die Vanderbijlparkse Sakekamer genoem is na onlangse foutiewe gerugte dat daar cholera in die Vaal se waters sou wees. Die feit bly egter staan dat die Vaaldriehoek reuse-probleme ten opsigte van spruit- en rivierwater ondervind en sakelui en die toerismesektor het oor die Kersvakansie derduisende rand verloor weens potensiele vakansiegangers se kansellasies. Hoewel die watergehalte tans baie beter is as voor die Desember-vakansie, is dit nog lank nie ideaal nie, se Weppener. Die Vaalrivier tussen die Lethabo-keerwal tot omtrent by die Riviera-hotel is skoon, maar verder af tot by die Barrage is die situasie steeds beroerd. Dit was einde verlede jaar landwyd in die nuus toe Save die Emfuleni-munisipaliteit met ‘n hofbevel moes dwing om dringende onderhoudwerk aan rioolpompe te doen. Dit was nadat groot volumes rou riool in die rivier ingestroom het. Nadat vis kort daarna by die tonne in die rivier begin vrek het, moes Emfuleni met ‘n hofbevel gedwing word om die massas dooie visse te verwyder. ‘n Kundige buitekontrakteur kon die “onoorkombare” probleem binne ses weke oplos, maar sy diens is intussen weens onbekende redes beindig en hy is met ‘n nuwe kontrakteur vervang. “Die feit dat buitekontrakteurs die probleme in ‘n relatiewe kort tyd kon vasvat, bewys dat die werk wel vinnig gedoen kon word. Dit kos belastingbetalers egter elke keer honderde duisende rand. Indien tydige en behoorlike onderhoud deur die plaaslike owerheid gedoen is, sou dit (die besoedeling) nooit gebeur het nie.” Save se ondersoeke blyk dat daar tans geen rou riool in die Vaalrivier invloei nie, maar ‘n nuwe bekommernis is die onlangse bevinding dat die Rietspruit-suiweringswerke glad nie funksioneer nie – dalk al vir jare nie. Nadat sanitasiekundiges die afgelope dekade die munisipaliteit se diens verlaat het, was daar skynbaar niemand wat die dreigende probleem voorsien het of behoorlike onderhoud gedoen het nie. Rand Water se toetse by Rietspruit het nog so onlangs as 14 Januarie ‘n e-coli-telling van 22 000 eenhede per 100 ml water getoon. Volgens die departement van waterwese se standaarde mag dit nie hoer as 1 000 eenhede per 100 ml water wees nie. “Siekte-veroorsakende organismes vloei dus steeds in die rivier in. Die tweede helfte van die Barrage-reservoir moet steeds as onbruikbaar vir mense beskou word,” se Weppener. Hy het beklemtoon dat die Vaaldriehoek se kraanwater nie uit die Vaalrivier kom nie, maar uit die Vaaldam, waarvan die watergehalte tans nog bo verdenking is en streng deur kundiges van Rand Water gemonitor word. |