Categorized | Uncategorized

WIE MAAK SKOON?

VANDERBIJLPARK. – Wat gebeur by ‘n misdaadtoneel waar bloed, liggaamsdele en ander bio-toksiese materiale ‘n hoë risiko skep vir siektes.

Baie mense is nie bewus van die gevare wat skuil agter menslike bloed en ander afval- materiale nie. Familie maak gewoonlik sulke tonele waar ‘n geliefde byvoorbeeld selfmoord gepleeg het self skoon, min wetend dat al lyk dit of dit skoon is, daar nog steeds kieme skuil.

Leonie van der Watt en haar seun, Ian, is die twee direkteure van Maximus Crime Scene Cleanup in die Vaaldriehoek. Hulle het die Crime Scene Cleanup konsessiesaak (franchise) gekoop van die twee “Bloed Susters” Eileen de Jager en Roelien Schutte van Pretoria wat die eienaars is. CSC Vaal bedien ‘n groot area en sluit in Redan, Meyerton, Drie Riviere, Henley on Klip, Vereeniging, Vanderbijlpark, Sasolburg, Deneysville en Parys. Daar is tans 21 van die konsessiesake landwyd in die Kaap, Natal en Gauteng. CSC Vaal lewer ‘n 24/7 diens en werk saam met die polisie en nooddienste.

Volgens Leonie is hulle intensief opgelei en gekwalifiseer as “Accredited Crime Scene Technicians”. Hulle het amptelik in Oktober 2012 begin. “Ons lewer hierdie diens om dit vir die naasbestaandes en mense wat betrokke was by ‘n traumatiese gebeurtenis makliker te maak,” vertel Leonie.

Hulle taak is om elke toneel met menslikheid, diskresie en privaatheid te hanteer. Volgens Leonie vra mense wat hoor wat hul werk behels, eerste die vraag – “Hoe kan julle dit doen, dit is aaklig, maar vir ons is dit maar net ‘n normale werk.” Leonie sê dat daar dae is wanneer die omstandighede van ‘n toneel hulle erg ontstel maar gelukkig is hulle goed opgelei om dit te verwerk.

Gereelde sielkundige evaluering en die nodige toetse word gedoen om hul welvaart te verseker. Leonie sê hulle werk behels die skoonmaak van enige toneel waar daar bloed en liggaamsvloeistof betrokke was byvoorbeeld moord, selfmoord of enige ander ongeluk.

CSC se ander dienste sluit in die dekontaminasie en skoonmaak van ambulanse, noodvoertuie en lykshuise.

“Ons maak ook voertuie skoon wat in ‘n ligte ongeluk was en waar die insittendes baie gebloei het asook voertuie waarin mense selfmoord gepleeg het.” Verder verwyder hulle ook bio-gevaarlike materiaal van apteke en klinieke in die Vaaldriehoek vir verbranding.

Leonie sê hulle is ook verantwoordelik vir die verwydering en verbranding van dierkarkasse en gronduitgrawing waar diere met “2-step” (aldi-carp) vergiftig is. Roet van huisbrande word met spesiale toerusting en chemikalieë verwyder. Na elke toneel word ‘n sertifikaat van veiligheid deur hulle hoofkantoor uitgereik. “Mense besef nie hoe gevaarlik dit is om bloed en liggaamsvloeistof self skoon te maak nie.” Bloed wat in ‘n mat ingetrek het, word droog en vorm uiteindelik ‘n poeier wat bekend staan as “black mould” wat as dit ingeasem word, lei tot erge long siektes. Ander siektes soos hepatitis, herpes, hanta-virus en e-coli kan ook opgedoen word. “Die veilige verwydering van skoonmaak- materiaal is van kardinale belang,” sê Leonie. Die dienste word deur die meeste versekeringsmaatskappye betaal onder hul gewone verbandversekering. CSC Vaal kan gekontak word by 073 2348 789 of 083 2657 841. E-mail:Vaal@crimescenecleanup.co..za