Categorized | Uncategorized

WÊRELDKROON VIR SHANTÉ

VANDERBIJLPARK. – ’n Waterwolk se sproei wat op hulle gesigte neerreën, is iets waaraan Shanté Bukes se teenstanders maar aan gewoond sal moet raak.

Wanneer sy op haar waterponie klim, verander dié beeldskone blondine van Vanderbijlpark in ’n vuurvreter-mededinger… Dit het die wêreld se bestes onlangs in Amerika, Arizona op Lake Havasu City op ’n harde manier geleer toe sy as wêrelkampioen tydens die IJSBA Jet Ski World Finals gekroon is.

Sy het in twee klasse: amateur runabout stock en women’s runabout stock deelgeneem. Sy is in laasgenoemde afdeling as die wêreldkampioen aangewys.

In ’n waterponiewedren is spoed nie alles nie, vernuf en jakkalsstreke is die giftigste pyle in jou koker. Vra maar vir Shanté se teenstanders wat geen teenvoeter vir haar wêreldklas loopgraaftegniek om voor te kom en voor te bly, gehad het nie.

Die oud-leerling aan die Hoërskool Transvalia en tans eerstejaars B.Com.-student aan die NWU is uitgeslape op die water.

In die tweede ronde van die wedren het haar teenstanders kragte saamgespan om haar hok te slaan, maar daar het weer dadels van gekom.

“Ek skoei my lewe op Filipense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my die krag gee,” sê Shanté. As ’n selferkende adrenalien verslaafde het sy in 2010 aan waterponie-wedrenne begin deelneem. Vele mans is in dié proses rooigesig gelaat. Sy het Suid-Afrika al twee keer in Thailand by die Kings World Cup verteenwoordig en haar nuwe wêreldkroon gaan nogal mooi by haar Protea-kleure pas.

Vaalweekblad het in 2010 die eerste keer oor haar berig toe sy tweede tydens die gewilde Ice Block-wedren geëindig het en in die proses ’n voormalige wêreldkampioen laat bloos het.

“Ek floreer as daar adrenalien betrokke is,” het sy destyds te kenne gegee.

Volgens haar ouers kom haar liefde vir spoed en avontuur al van kindsbeen af. “Sy het natuurlike aanvoeling en talent vir die sport. Sy het sommer die tweede wedren waaraan sy deelgeneem het gewen,” het haar pa, Johan, gespog.

Wanneer sy nie op die water is nie, is sy besig om haar vlieglisensie te verwerf.

Wat haar onmiddellike toekomsplanne betref, gaan sy in Desember in Thailand wéér aan die Kings World Cup deelneem. Die deelnemers daar moet maar solank hulle lywe vet smeer en uitkyk vir die waterponie waarop nr.72 pryk.

Source : Vaalweekblad.com