Categorized | Uncategorized

ULTRA-UITHOU EN AANHOU

VAALPARK. – Die Sasolburgse driekamp-koningin, Sylvia van Tromp, het Sondag tydens die Prestige Ultra Driekamp-byeenkoms wat by die Abrhamsrust-vakansieoord aangebied is, haar teenstanders behoorlik laat borrels hap.

Hoewel van Tromp uiteindelik tweede in Olimpiese driekamp (1.5km swem, 40 km fietsry en 10 km draf) geëindig het, het sy die kollig in die swem-afdeling gesteel. Sy was heel eerste uit die water in ‘n spogtyd van 21:38. Die manswenner, die 36-jarige Ross Koch, se opmerking oor die swem-afdeling het dit perfek opgesom. “Daar was ‘n vrou in die water, maar sjoe sy kon swem. Sy het vir ons almal weggeswem,” het Koch tong-in-die-kies na sy oorwinning gesê.

Koch het die Ope-afdeling in ‘n tyd van 2:12:41 gewen, sowat vyf minute vinniger as die naaswenner Jacov Lalou. Die Olimpiese afstand se vroue-wenner was Carol Reeves (2:26:41) wat nie net ‘n groot agterstand ingehaal het nie, maar ook ‘n aansienlike voorsprong op die fiets bewerkstellig het.

In die Ultra-kompetisie (1.9 km swem, 90 km fietsry en 21 km draf) is die deelnemers se uithouvermoë tot die uiterste beproef en die sonnetjie wat agter die onweerswolkies weggeskruip het, is deur elke deelnemer verwelkom. Freddy Lampret het in ‘n wentyd van 3:55:39 gewys hy is in ‘n klas van sy eie. Die tweede en derde podiumplekke is deur Gerhard de Bruin (4:01:30) en Phillipe van der Leeuw (4:04:09) ingeneem. Lampret en de Bruin was feitlik soos een man uit die water maar hy het daarna stelselmatig sy voorsprong gerek.

Toe die 21 km hardloop-afdeling aanbreek ,het Lampret ‘n skamele voorsprong van minder as twee minute geniet, maar dit was hier waar hy gedy het. Hy het sy voorsprong tot agt minute gerek en tot die einde verbete daaraan vasgeklou.
Natasha Gorrie (4:19:21) het vanuit die staanspoor die pap dik aangemaak om Caroline Koll (4:31:10) oortuigend uit te stof. Vir die volledige uitslae besoek www.spectrumsport.co.za
Bron: vaalweekblad.com