Categorized | Uncategorized

TJOEKIE TOE MET DRONK BURGEMEESTER

Burgemeester Simon Mofokeng van Sedibeng-distriskmunisipaliteit het vir die tweede keer die jaar die munisipaliteit se naam met ‘n plank geslaan nadat hy bietjie te diep in die bottel gekyk het en vir dronkbestuur aangekla is. Foto: Internet

VANDERBIJLPARK. – Burgemeester Simon Mofokeng van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, het vir die tweede keer vanjaar die nuus gehaal nadat hy bietjie te diep in die bottel gekyk het.

Mofokeng het ‘n aandjie agter tralies deurgebring toe hy op 5 Junie in ‘n motorbotsing in Shakespearstraat betrokke was (en boonop onder die invloed van alkohol). Hy is aangekla vir dronkbestuur, bloedmonsters is geneem en hy is die volgende dag op borgtog van R1 000 vrygelaat. Die voorval volg skaars twee maande nadat hy glo so besope was by die Cat’s Action Bar in Vanderbijlpark, dat hy van sy stoel afgeval het en by die deur uitgedra moes word. Die nuutste skande is deur foto’s waar hy met ‘n wit emmertjie op die grond sit, bevestig.

Mnr. Dan Manoeli, Sedibeng se waarnemende direkteur van kommunikasie, het gesê Mofokeng vermoed sy drankie was gedokter en dat dit ‘n rasgemotiveerde aanval was. Die Demokratiese Alliansie (DA) is geensins beïndruk met die burgemeester se optrede nie en gaan ‘n mosie van wantroue indien ,omdat hy die munisipaliteit se goeie naam in gedrang bring.

“Ons as DA wil ‘n beroep doen op die burgemeester om te bedank.

“Hy het die wet oortree en so ook die munisipale gedragskode,” sê mnr. Simon Mollo, DA-woordvoerder vir die Sedibeng-distriksmunisipaliteit en streeks-ondervoorsitter van die DA. Mollo sê hulle het met die vorige voorval ook ‘n mosie van wantroue ingedien, maar die ANC wou nie die saak debatteer nie en die saak is uitgestem. Die DA was in die minderheid. “Dit is nie die eerste keer wat so iets gebeur nie. Hoekom het hy nie eerder Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit met al die betogers die laaste tyd gaan ondersteun in plaas van om homself agter tralies te kry nie?” vra Mollo.

Vaalweekblad het mnr. Dan Manoeli om kommentaar genader en is na mnr. Andries Mapatla, direkteur in die burgemeester se kantoor verwys, wat gesê het dat hulle nie in dié stadium kommentaar oor die voorval kan lewer nie,omdat die burgemeester ten tye van die voorval op studieverlof was en hulle eers bymekaar moet kom. Hulle sal wel daarna ‘n verklaring uitreik.

Burgemeester Simon Mofokeng sal op 5 September op ‘n klag van dronkbestuur in die Vanderbijlparkse landdroshof verskyn.

Bron:  vaalweekblad.com