Categorized | Uncategorized

Spog atletiek in die Vaal

VANDERBIJLPARK. – Die Vaaldriehoek se atletiekvelde en stadions het verlede week en die afgelope naweek weer gegons van aktiwiteit.
Terwyl sommige skole hulle atletiek-arsenaal van nader bekyk het met hulle jaarlikse huissport-byeenkomste het verskeie hoërskole in die streek vriendskaplike-byeenkomste gehou. Al die byeenkomste het groot belangstelling gelok en gemeet aan die gehalte van atletiek wat so vroeg in die seisoen opgelewer is, gaan die Interskole-byeenkomste wat eersdaags plaasvind baie opwinding oplewer. Na wat verneem word sal die Interhoër-atletiekbyeenkoms vanjaar op die DP de Villiers-stadion in Sasolburg plaasvind. Terwyl die HTS Carel de Wet en Driehoek gasheer gespeel het vir onder meer skole van so ver as die Oos- en Wes Rand, het die Hoërskool Transvalia na sy byeenkoms vroeër verlede week – op die DP de Villiers-stadion teen Wes-Valia van Klersdorp – anderkant die Jukskeirivier gaan pronk. *Die Sasolburg-atletiekklub, die pasaangeër in Sasolburg nooi belangstellendes om op Dinsdagaande om 17:00 saam te kom sweet en daarna bietjie te kuier. Die klubhuis is by die DP de Villiers-stadion geleë. Op ‘n soortgelyke noot vind die Sasol Marathon eerskomende Saterdag om 06:00 by die DP de Villiers-stadion plaas. Die hoofwedloop, ‘n marathon oor 42,2 km – wat ook as ‘n kwalifiserende wedloop vir die Comrades marathon dien – gaan die grootste aftrek kry.

Dan is daar ook `n 21,1 km en ‘n 10 km-wedloop en ‘n pretdraf om vir atlete van enige fiksheidsvlakke voorsiening te maak. Atlete kan die oggend van die wedlope en marathon vanaf 05:00 by die stadion inskryf. Elke deelnemer wat die wedloop voltooi, sal ‘n medalje ontvang. Die eerste 350 deelnemers aan die 42,2 km en 21,1 km-wedlope sal T-hemde ontvang.

Die Sasol-marathon is een van die beste georganiseerde wedlope in Suid-Afrika. Dis nog onduidelik of die verdedigende kampioen, Brighton Chipere, vir die hoofwedloop gaan aantree. Gegewe dié Nedbank-atleet se “liefdesverhouding” met die marathon sal niks hom waarskynlik weerhou om te poog om sy vierde titel in vier jaar te verower nie. Hy het die afgelope drie jaar stof in sy mededingers se oë geskop en behoort vanjaar weer in goeie vorm te wees. Vir meer inligting oor die Sasolburg-atletiekklub of die Sasol ma-rathon kan Dolf Binneman by 073 339 6809 gekontak word. Bron:  vaalweekblad.com