Categorized | Uncategorized

SPANNERS SE UITBLINKERS VAN 2013

SASOLBURG. – HTS Sasolburg het onlangs by sy jaarlikse prysuitdeling erkenning gegee aan ‘n spesiale groep Spanners wat in 2013 hulle kant gebring het. Twee matriekleerlinge het veral uitgestaan en het die saal met arms vol trofeë verlaat.

Juhan Lodewyk en sy klasmaat Wayne O’Neil het onderskeidelik tweede en eerste plek in hulle grade behaal in hulle akademie en sodoende met erekleure vir akademie weggestap. Hulle talente eindig egter nie daar nie:

Juhan Lodewyk het ook erekleure verwerf vir rugby, erekleure vir vyf jaar betrokkenheid by die skoolkoerant, erekleure vir leierskap na vyf jaar kwaliteitsdiens en erekleure vir atletiek nadat hy tweede gekom het by die Vrystaat Inter-hoër in die hamergooi o/19-item en sodoende by die SA skole kampioenskap deelgeneem het.

Hy het ook ‘n diploma gekry vir krieket nadat hy vir die eerste krieketspan gespeel het. Juhan het die vaktoekennings gekry vir Afrikaans Huistaal, English first additional language, lewensoriëntering en elektriese tegnologie.

Hy het ook die Charl Botha-trofee vir hoflikheid, die Bonanza Verwe-trofee vir veelsydigheid, die trofee vir die beste krieketspeler, die trofee vir die beste sportpresteerder in graad 12 en die Snyman Prinsloo-trofee vir veelsydigheid in sport verower.

Wayne O’Neill het ook erekleure vir akademie gekry sowel as diplomas vir muurbal en tennis. Wayne het die vaktoekennings gekry vir Afrikaans first additional language, English home language, siviele tegnologie en ingenieursgrafika en -ontwerp.

Hy het ook met die trofee vir die beste tennisspeler, die JJV Engineering-trofee vir die Dux-leerling sowel as die Zencor-trofee vir tweetaligheid weggestap. Juhan beplan om Elektriese Ingenieurswese aan die Potchefstroomkampus van die NoordWes-Universiteit te studeer.

Wayne se plan is om ‘n vlieënier te word. Hy is reeds besig met sy privaat vlieglisensie en is van plan om daarna sy kommersiële lisensie te doen met die oog daarop om hierdie droom te verwesenlik.

Source: Vaalweekblad.com