Categorized | Uncategorized

OUDSTE POMP IN DIE DORP

SASOLBURG. – As jy in ’n woonbuurt rondry en jy sien skielik ‘n windpomp bo een van die huise uittroon, moenie bekommerd wees en dink jy hallusineer nie, dit wat jy sien, is waar! Mike Spilsburry, of Suiker soos hy bekendstaan, het ‘n regte windpomp wat in sy erf staan. Mike versamel al vir jare lank oudhede, waaronder verskeie ou plaas- implemente, wat hy dan trots op sy erf uitstal. “Hierdie plaasimplemente kom van verskeie plase in die land af. Die windpomp het ek op ‘n plaas in die Reitz-distrik gekry. Die pomp het al vir sowat 20 jaar nie meer gewerk nie en was vasgeroes,” vertel Suiker.

Hy het die windpomp toe self afgebreek en huis toe gebring waar hy dit weer aanmekaar gesit het. “Ek het nie geweet hoe nie, toe gaan doen ek bietjie huiswerk op die internet en sit dit weer reg aanmekaar,” sê Suiker. Die patentdatum op die pomp dateer uit 1935.

Hy het ook gemerk dat die windpomp wit yster ‘bearings’ het. Hy het met sy navorsing op die internet gevind dat windpompe net tot vroeg in die 1940’s nog sulke ‘bearings’ gehad het, dus dateer hierdie windpomp uit tussen 1935 en 1940. Suiker vertel graag in detail oor die geskiedenis van hierdie besondere tuinornament, soos dat van die koeëlgate in die pomp volgens legende uit een of ander skietgeveg kom.

Hy verduidelik ook presies waar die pomp op die plaas gestaan het, “langs die populierbos, op ‘n koppie wat oor die bouval van die ou huis uitkyk”. Suiker beoog om sy versameling uit te brei.

Hy het tans sy oog op ‘n stok-oue John Deere-trekker.

Source: www.vaalweekblad.com