Categorized | Uncategorized

NUWE WIELE VIR SELOUNA

VEREENIGING. – Vroeër vanjaar het Therisa Broekman van PSG Konsult ‘n projek geloods om geld vir die 17-jarige Selouna Visser, wat aan spinale spieratrofie ly, in te samel. (Vaalweekblad – Help tiener se lewe makliker maak)

Selouna se brein en spiere is in plek, maar die boodskap gaan egter nie deur na die ledemate toe nie. Sy kon loop tot op die ouderdom van sewe en is daarna as ‘n parapleeg gediagnoseer. Daar moet voltyds na haar omgesien word en aanpassings is gemaak om Selouna so na as moontlik aan ‘n normale lewe en omstandighede groot te maak. Selouna is ‘n graad 11-leerling by Hoërskool Ferdinand Postma in Potchefstroom en blink akademies uit.

Die fondinsamelingsprojek het sover goed afgeloop en genoeg geld is ingesamel om ‘n deposito neer te sit vir ‘n nuwe voertuig om Selouna makliker te vervoer. Dit was vir haar ma ‘n groot uitdaging om haar elke dag van punt A na punt B te kry. Te danke aan die gemeenskap en Therisa se projek is die lewe van Selouna nou aansienlik makliker, en so ook die van haar ma, Roma.

Die Visser-gesin se nuwe Nissan NV200 is aan hulle oorhandig en Therisa bedank hul borge, Nissan Vereeniging, Amtech, DJ Afvaldienste en PSG Drie Riviere, asook direkte kontantskenkings en die gemeenskap wat hul ondersteun. Sy vra ook dat elkeen sal aanhou om die projek te ondersteun sodat die voertuig klaar betaal kan word.

Herwinning van plastiek, glas, papier, blikkies en leë inkhouers kan by PSG se kantore afgegee word in Rossini-boulevard 27, Vanderbijlpark en Generaal Hertzogweg 97, Drie Riviere. 0 086 177 4823.

Source: Vaalweekblad.com