Categorized | Uncategorized

Net die regte flavour

Die Vaaldriehoekse sanger en liedjieskrywer, Juan Boucher, is besig om die land se dansvloere aan die brand te sing met sy pop-danstreffers. Die 27-jarige kunstenaar is terug met die album Jy’s my flavour, ‘n versameling met vier splinternuwe snitte asook sy liedjies van sy debuut CD 082…

Boucher het sang en liedjieskryf met alle erns aangegryp toe sy meisie na ‘n motorongeluk in ‘n koma in die hospitaal beland het.

Hy was vasbeslote om haar met sy spitsvondige lirieke te verras wanneer sy sou wakker word. Ongelukkig het sy nie die ongeluk oorleef nie, maar Boucher het deurgedruk met sy musiekloopbaan. Die eindproduk is verslawende dansliedjies.

Die titelsnit, soos die ander, is ‘n saamsing-nommer wat met Boucher se sexy, spitsvondige lirieke verseker dat die luisteraar sommer dadelik begin voete stamp en saamsing. “My album is uniek omdat ek elke liewe song met oorweldigende passie geskryf het. Ek het seker gemaak daar is nie ‘n liedjie in die wêreld wat dieselfde klink as myne nie.

Daarmee bedoel ek dat elke melodie en elke woord alles 100% oorspronklik en suiwer Afrikaans is,” vertel Juan. “My inspirasie kom van die mense af. Elke keer as ek van ‘n verhoog afklim en die mense het dit so geniet, wil ek net meer en meer skryf. Daar is nie ‘n beter gevoel in die wêreld nie as wanneer jy ‘n liedjie geskryf het en die mense het geleer om dit saam met jou te sing. Dis onbeskryflik lekker.”

* Om ‘n kans te staan om hierdie CD te wen, sms slegs jou naam en die woorde Jy’s my flavour voor Vrydag na 45534. Sms’e kos R1,50.

Bron:  vaalweekblad.com