Categorized | Uncategorized

Motorverkope beste in twee jaar

Die verkope van nuwe voertuie het in Augustus die hoogste vlak in 28 maande bereik, maar kenners waarsku dat stakings en die groenbelasting op nuwe motors die vooruitsigte vir die res van die jaar minder rooskleurig laat lyk.

Die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers (Naamsa) se jongste verkoopsyfers wat verlede week uitgereik is, toon aan dat daar in Augustus 46 377 nuwe voertuie in Suid-Afrika verkoop is – dit is sowat 36,9% meer as in Augustus verlede jaar.
Verkope was in Augustus ook 12,2% hoër as in Julie vanjaar.
Augustus se verkope was nie net die hoogste in die jaar nie, maar ook die hoogste in meer as twee jaar.
Die skerp toename in verkope word onder meer daaraan toegeskryf dat kopers voertuie wou koop voordat die groen-belasting op nuwe motors, wat op 1 September in werking getree het, motorpryse opgejaag het.
Dié nuwe belasting word gehef op die hoeveelheid koolsuurgas wat motors in hul uitlaatgasse vrystel en word by die prys van die voertuie gevoeg.
Motorverhuurders het hul vlote aangevul ná die Wêreldbeker-sokkertoernooi terwyl die bekendstelling van nuwe modelle, verkope ook ondersteun het.
Mnr. Sydney Soundy, hoof van Absa Voertuig- en Batefinansiering, sê egter hy verwag nie dat Augustus se verkope vanjaar getroef sal word nie.
ΓÇ£Ons meen dat verkope van September af gaan daal, onder meer weens die sloerende stakings. Dit is veral die staatsdienswerkers se staking wat motorverkope gaan seermaak.ΓÇ¥
Soundy sê die staat het die meeste werknemers in die land.
“Dié mense staak al langer as drie weke, wat beteken hulle het reeds ’n maand se salaris verloor. Ons verwag dit gaan ’n impak hê op nuwe-motorverkope sowel as die betaling van bestaande paaiemente in die maande vorentoe.”
Mnr. Brand Pretorius, uitvoerende hoof van McCarthy, sê die staking in die motorbedryf kan in die maande wat voorlê tot ’n tekort aan voorraad lei as ’n gebrek aan bande en komponente weens stakings in dié segmente van die bedryf die vervaardiging van nuwe motors tot stilstand bring of vertraag.

Nuusbron: Vaal Weekblad