Categorized | Uncategorized

KRUISING KRY NUWE, VEILIGER BAADJIE

SASOLBURG. –  Die berigte DF Malan-R59 kruising net buite Sasolburg wat al talle lewens geëis het, kan dalk in die toekoms ongelukvry wees danky Sasol!

Sasol, in samewerking met die Metsimaholo- en Vrystaat-regering, het begin met die opgradering van dié kruising (R59 en DF Malan).

Sedert 2008 was daar 108 voertuie betrokke in 55 ongelukke. In hierdie 55 ongelukke het 56 mense beserings opgedoen en 18 is dood.

‘n Groot bydraende faktor is die hoë verkeervolume wat daagliks deur die kruising gaan. Die totale verkeer wat deur die kruising gaan, is gemiddeld 12 815 voertuie per dag, waarvan ‘n derde swaarvoertuie is.

Sasol bou nou ‘n uitgangs-baan (slip lane), vir voertuie wat van Vereeniging se kant af op die R59 ry en in DF Malan wil afdraai. Dié baan sal dit ook makliker maak vir voertuie wat uit DF Malan op die R59 wil draai, om die aankomende verkeer te sien. Motoriste wat vanaf DF Malan links (na Parys), wil draai se uitgangs-baan sal vroeër begin sodat dit dinge nog veiliger sal maak vir die motoriste wat reguit oor die R59 wil gaan, of regs op die R59 wil draai. Verdere veranderinge is om ‘n versperring-eiland te bou tussen die uitgangs-baan en die R59 om stilstaande verkeer op DF Malan te beskerm teen aankomende trokke en voertuie op die R59. Daar sal ook ‘n ekstra baan, wat slegs vir voertuie wat regs wil draai op die Wonderfonteinpad vanaf die R59 (van Vereeniging se rigting), aangebring word met ‘n eiland-mediaan wat hulle sal beskerm terwyl hulle vir aankomende verkeer vanaf Parys wag. Die Wonderfonteinpad sal ook toegewyde uitgangs-bane hê vir voertuie wat links/regs op die R59 wil draai. Al bogenoemde veranderinge behoort ‘n groot bydrae tot veiligheid te maak.

Source: Vaalweekblad.com