Categorized | Uncategorized

KOMMER OOR KARWAG ONNODIG

SASOLBURG – Na aanleiding van die brief wat in Vaalweekblad se Lesersforum verskyn het: “Bekomerde inwoner” in Vaalweekblad 5-7 Maart oor “Wie is die man met die rugsak?” het Casper Calitz van Sasolburg besluit om self ondersoek te gaan instel en meer oor die man uit te vind.

Dit is sy verslag:

Met die betrokke uitgawe van Vaalweekblad, my kamera, pen en notaboek ry ek Sasolburg-polisiestasie toe. Ek kry hom op sy pos waar hy as motorwag werk.

Baie vriendelik groet hy my en vra of hy na my motor kan kyk.

Ek sê nee, nie vandag nie, ek wil bietjie met jou gesels. Ek blaai na die betrokke brief toe en vra of hy kan lees.

Hy sê nee hy kan nie.

Ek lees vir hom die brief en kry die nodige inligting.

Sy naam is Jan-Harm Koekemoer (24) maar sy vriende noem hom sommer Jannie. Hy sê hy is altyd vriendelik met almal, maar hy word deur sommige mense weggejaag en as ‘n oorlas beskou.

Hy bly in Sasolburg by sy pa en stiefma wat hy “Sussie” noem. Sy biologiese ma woon in Deneysville. Sy kom haal hom gereeld om by haar te gaan kuier. Sy ouers is glo geskei toe Jannie en sy sussie nog baie klein was.

Jannie het by Eureka Skool in Vereeniging tot met fase 4 skool gegaan. Hy het as 18-jarige die skool verlaat en begin werk soek.

Sy eerste werk was by ‘n drankwinkel waar hy klante se pakkies motor toe gedra het. Hy is egter later gevra om te loop omdat die mense gekla het dat hy ‘lastig’ is.

Hy het toe karwag geword en maak gemiddeld so R33 per dag.

Hy gebruik dié geld om eetgoed vir homself te koop en sorg ook daarmee vir sy hondjie Rex, ‘n kruising tussen ‘n Poedel en ‘n Jack Russel.

Hy vertel hy is nie soos ander kinders wat rook, drink, dwelms gebruik of by bendes betrokke is nie.

“Ek was al eenkeer toe ek tot na 21:00 karre opgepas het, op pad huistoe deur ‘n bende aangeval. Maar wat hulle nie geweet het nie, is dat ek karatelesse gehad het. Ek het die die leier gou-gou op sy plek gesit.”

Hy is baie gelukkig waar hy nou karre oppas. Die polisiemanne en -vroue is vriendelik. Hulle groet my altyd en het my nog nooit gevra om te loop nie.”

Ek vra of ek ‘n paar foto’s van hom kan neem. Hy stem in en gee my sy beste glimlag moontlik.

Hy bedank my dat ek met hom gesels en foto’s geneem het.

Aan al die ander “Bekommerde inwoners” … Jannie is nie bereid om na ‘n plek van veiligheid te gaan nie en is heel gelukkig met wat hy doen.

Source: Vaalweekblad.co.za