Categorized | Uncategorized

KERKTORING AFGEBREEK VIR GROEI

VANDERBIJLPARK. – Die AGS Dinamika Kerk se kerktoring is verlede week onder groot toejuiging laat kantel. Dit was ‘n goed-beplande “skouspel” wat ‘n groot skare gelok het.

Vir meer as 40 jaar het die huise in die omliggende area rondom die kerk ‘n uitsig oor hierdie toring gehad. “Dis voorwaar tyd vir ‘n nuwe begin … ‘n tyd waar ‘n “familie” saam bou aan ‘n nuwe perseel,” sê pastore Johan en Alta Vrey. Volgens hulle sien die gemeente baie uit na die voltooiing van hul nuwe groot ouditorium.

Die AGS Dinamika het op 2 Junie verlede jaar oorgetrek na hul nuwe perseel op die hoek van President Steyn- en Piet Cronje-straat (oorkant Vaal Slaghuis).

Die nuwe terrein is die ou perseel van NG Historia. Die gemeente het reeds aanbouings en ander veranderinge aangebring aan hul nuwe perseel vir hul immer-groeiende gemeente. Die Kinderkerksaal is al ten volle afgehandel en is reeds in gebruik.

Die volgende mikpunt van die gemeente is hul “nuwe ouditorium”. Die huidige ouditorium het plek vir sowat 550 stoele wat al reeds nie genoeg is nie.

Daar is ‘n dringende behoefte om te begin met die uitbreek en bou van ‘n nuwe ouditorium.

Die ou toring het hulle egter verhoed om te begin met die grawe van die nuwe fondasies.

Die voorbereiding vir die afbreek van die toring is getref en die strate is vir veiligheid afgesper. Die raad het ‘n maatskappy, Forte Demolition, gekry wat kans gesien het om die betontoring te laat val. Dit is suksesvol deurgevoer sonder dat enige ander fasiliteite skade gely het.

Source: Vaalweekblad.co.za