Categorized | Uncategorized

JOOST STEEL KOLLIG BY DINEE

Die Hoërskool Transvalia se sportdinee was ’n reuse-sukses.

Voor is: Tjaart du Plessis en Joost van der Westhuizen.

Agter van links is: Herman Venske, Johan Venske, Burger Geldenhuys, Naas Botha, Jaco van der Westhuizen, Rudolf Straeuli, Tommy du Plessis en Johan Marais.




VANDERBIJLPARK. – Privatiseer Suid-Afrika se rugby-franchises.

Dít is volgens Suid-Afrika se skopkoning Naas Botha die toekoms van ons reënboognasie se geliefde spel met die ovaalbal.

Botha het verlede Donderdagaand by die Emerald Resort and Casino tydens die Hoërskool Transvalia se sportdinee as die hoofgasspreker opgetree. Jaco van der Westhuizen (voormalige Bulls-agterspeler) en Rudolf Straeuli (kommersiële bestuurder van die Sharks; oud-Springbokspeler en -afrigter) het ook die gaste toegespreek.

Hy is van mening dat indien die franchises se finansiële strukture sterker is, dit makliker sal wees om die land se voorste spelers vir die Groen -en Goud te bewaar.

Hoewel ’n ieder en ’n elk tydens sy toespraak aan sy lippe gehang het, is die kollig deur Springbok-legende Joost van der Westhuizen gesteel.

Tansvalia het tydens dié funksie gehelp om fondse vir die J9-stigting in te samel. ’n Terminale motorneuronsiekte is in 2011 by dié voormalige Springbokkaptein -en skrumskakel gediagnoseer.

In plaas daarvan om in sak en as te sit, het die veteraan van drie wêreldbekertoernooie die J9-stigting begin om ander mense te help wat aan dieselfde toestand ly.

Hoewel hy deesdae veel ouer en maerder lyk en vasgevang is in ’n rolstoel is daar steeds ’n glinstering in Joost se oë te bespeur. Sonder om ’n woord te spreek, straal sy oë die boodskap uit dat hy tot die bitter einde gaan veg.

’n Aangedane Barend van Graan, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy, het ’n roerende terugblik op Joost se loopbaan gemaak. Sonder notas het hy uit geheue Joost se loopbaan opgesê. Hy het afgesluit met: “Jy’s ’n yster en ’n rots.”Ander legendes wat die aand saam met Joost en gaste geniet het, was Burger Geldenhuys (oud-Springbokflank), Tommy du Plessis (voormalige Springbok- en Blou Bul-speler) en Alwyn Myburgh (voormalige olimpiese hekkies-atleet). Hannes Muller, van Groet die Grotman-faam, het as seremoniemeester die gaste laat skaterlag en plaaslike kunstenaar Hugo het vir die musiekvermaak gesorg. Die hoogtepunt van die aand was die memorabilia-veiling.

’n Geraamde rugby-collage van Joost het met ’n asembenemende bod van R45 000 die hoogste prys op die veiling gehaal.

Source: vaalweekblad.com