Categorized | Uncategorized

EEN WONDERWERK NA DIE ANDER VIR DANICA

VEREENIGING. – Klein Danica Lotter (6) is na byna ‘n jaar besig om kanker finaal te oorwin.

Vaalweekblad het gedurende Mei 2013 berig dat Danica op die ouderdom van vyf met aggressiewe kanker gediagnoseer is, wat al in die vierde fase strek. Dokters het op ‘n massiewe gewas in haar brein afgekom wat teen ‘n versnelde tempo groei en die kanker het tot in haar maag en rugmurg versprei. Die gewas het ook veroorsaak dat sy haar sig verloor het.

Vandag is die kleinding byna heeltemal gesond. Alhoewel sy nog nie kan sien nie, is sy steeds positief en vol energie.

Gedurende Desember 2013 het dokters die goeie nuus aan die Lotter-gesin meegedeel dat die gewas in haar brein skoonveld is en op 14 Februarie 2014 het sy ‘n operasie ondergaan om die kanker by haar niere uit te sny. Sy gaan nou vir ‘n maand lank bestraling ontvang en daarna vir opvolgondersoeke gaan om te verseker sy is heeltemal gesond.

Die Lotter-gesin bedank elkeen wat hulle in die tyd help en ondersteun. “Dit is die Here se werk wat besig is om Danica te genees. Die een wonderwerk het na die ander gebeur en ons is Hom ewig dankbaar,” sê Lizelle, Danica se ma.

Allen Pascoe, ‘n familielid van die Lotter-gesin, het ‘n trustfonds begin om te help met die mediese onkoste wat met Danica se behandeling gepaard gaan. Die Lotter-gesin het ook ‘n week vakansie gaan hou in Umhlanga wat deur die Protea Hotel-groep en Star Nissan Vereeniging geborg is. DisChem gaan ook ‘n bydrae lewer deur medikasie vir Danica te borg.

Dit gaan elke dag beter met dapper Danica, maar daar is steeds mediese uitgawes wat betaal moet word.

Indien enige persoon ‘n bydrae wil maak, kan die volgende bankbesonderhede gebruik word:

FNB, Danica Lotter Cancer Fund Npc, Drie Riviere, rekening nommer: 62433823219.

Source: www.vaalweekblad.co.za

Click to get listed

Follow us…

Read more…