Categorized | Uncategorized

Dis beter om naelstring nie te gou na geboorte te knip

Navorsers meen die gebruik om ‘n baba se naelstring direk na die geboorte af te bind, is dalk ‘n groot fout. Na onlangse navorsing stel medici nou voor dat daar gewag moet word totdat die bloedvloei deur die naelstring vanaf die moeder na die baba, eers vanself heeltemal stop voordat dit afgebind word.

Prof. Paul Sanberg van die Universiteit van Suid-Florida in Amerika skryf in die joernaal Cellular and Molecular Medicine dat dit slegs ‘n paar minute neem vir die bloedvloei om te stop, maar dat dit inderdaad ‘n paar uiters kritieke minute is.
Hy sê die naelstring dra direk na die geboorte steeds noodsaaklike voedingstowwe en suurstof aan die baba oor, maar veral ook stamselle, wat mettertyd in verskeie ander selle kan verander.
“Bloed wat deur die naelstring beweeg is nie net gewone bloed nie; dit is in werklikheid die natuur se stamsel-oorplanting,” verduidelik hy.
Algemene probleme by pasgeborenes is onderontwikkelde organe, wat baie by bykomende stamselle kan baat, meen Sanberg. Deur langer te wag voordat die naelstring afgebind word, kan die baba se risiko om siektes en toestande soos asemhalingsprobleme, chroniese longsiektes, breinbloeding, bloedarmoede, sepsis en oogsiektes aansienlik verlaag word, is sy teorie.
Dit geld veral vir vroeggebore babas en babas wat ondervoed gebore word of aan ander komplikasies onderhewig is, hoewel die navorsers meen dat dit net so voordelig vir voltermyn, gesonde babas is om die naelstring nie te gou te knip nie.

Nuusbron: Mooivaal Media – Vaalweekblad