Categorized | Uncategorized

Die snorker in jou lewe

VANDERBIJLPARK. – Daar word geglo dat ongeveer een uit elke drie niksvermoedende paartjies met iemand trou wat snork.

Om langs ‘n snorker te lê ontneem nie slegs die slaapkamer van stilte nie, maar veroorsaak probleme tussen die eens liefdevolle paartjie.

Baie pasgetroudes sien snork as ‘n feit van die lewe, en doen nie stappe om die probleem te beheer nie. Slegs ‘n klein aantal maak hul bedmaat wakker. Sommige gaan slaap selfs in ‘n ander kamer.
Deur saam met ‘n snorker te slaap, kan die manier waarop jy wakker word en teenoor jou maat optree, verander.

Versteurde slaap vir ‘n enkele dag verhoog jou brein se reaksie op emosionele stimulasie. Dit verklaar waarom jy hoogs geïrriteerd, depressief en selfs romanties afstomp teenoor jou snorkende maat na ‘n rustelose nag.

Dit word beraam dat dié wat dit waag om naby ‘n snorker te slaap, tot ‘n uur se slaap elke nag kan verloor en selfs hoë bloeddruk kan kry. Dit het ook ‘n negatiewe uitwerking op jou gesondheid. Hoë vlakke van moegheid en slaperigheid is ook reeds gerapporteer en selfs die risiko om gehoorverlies te ontwikkel.

Tweedehandse snork mag selfs sy tol op gehoor neem. ‘n Lewensmaat wat langs ‘n snorker slaap, het erge gehoorverlies oor ‘n tydperk ontwikkel in die oor wat die meeste aan die snork blootgestel is. Die menslike brein is in staat om aan te pas in verskeie toestande. Dit is juis waarom baie getroudes na tien jaar se huwelik langs mekaar kan slaap sonder steurnis, selfs al snork hulle maat hewig.

Die nie-snorkende slaapmaat pas aan by die luide gesnork, deur die oor se gehoor-sensitiwiteit te verminder. Indien ons die hele wêreld se snorkers kon kombineer, sou dit waarskynlik ‘n massiewe aardbewing veroorsaak, veral as mens in ag neem dat elke snork so hard soos 60 tot 90 desibels is.

Die oorsaak van die euwel

Snork kan dikwels geblameer word op obstruksie in die neus of keel. Geblokte neuse as gevolg van allergieë, verkoue, mangels en selfs oorgewig kan almal tot snork lei. Oorgewig, spiere van die tong en keel wat swak is en selfs gene kan ook daarvoor verantwoordelik wees.

Oplossings kan moeilik wees. Vir ligte snorkers kan die oplossing so eenvoudig wees as om sy of haar slaapposisie te verander.

Oorpluisies kan ‘n eenvoudige oplossing wees, maar is nie effektief vir almal nie.

Snork gaan dikwels hand aan hand met meer ernstige obstruktiewe slaap-apnee wat uitgeken kan word deur episodes van onderbrekende asemhaling van meer as 10 sekondes wat tot gereelde wakker episodes en tot ‘n groot aantal gesondheidsprobleme kan lei.

Obstruktiewe slaap-apnee word geassosieer met erge slaperigheid en is ‘n risiko vir ongelukke, hoë bloeddruk, hartsiektes, depressie, swak konsentrasie, hartaanval en beroerte.
Deur slaap-apnee te behandel, kan snork merkwaardig verminder. Vir al die lewensmaats daar buite, kry jou snorker om te gaan vir ‘n slaapstudie. Nie alle snorkers ly aan slaap-apnee nie. As jou halsstarrige bedmaat weier om samewerking te gee, lig hom in dat jy nie terugkom slaapkamer toe totdat hy iets daaraan gedoen het nie.

Indien jy meer inligting oor hierdie sensitiewe kwessie wil hê, kontak Adele by 081 245 6151, of besoek www.snoresister.co.za.

Bron: vaalweekblad.com