Categorized | Uncategorized

Blinde Hoenderboer maak Vaaldriehoek trots

VANDERBIJLPARK. – Mnr. Japie Badenhorst, die bekende blinde klavierstemmer van die Vaaldriehoek, is ook ‘n ywerige hoenderboer. Hy het die Vaaldriehoek se naam hoog gehou tydens die SA Pluimvee Kampioenskappe wat op Kleinplasie in Worcester gehou is. Hy het 20 Bantam-hoendertjies ingeskryf.

‘n Totaal van 3 000 hoenders is in totaal vir die skou ingeskryf.

Twee van sy Japanese bantam-hoenders is aangewys as die Groot Kampioen en Reserwe Groot Kampioen in hul ras. Japie het in totaal ses eerste plekke, twee tweede plekke, twee derde plekke en ‘n vierde plek in die verskillende rasse-afdelings verwerf.

Japie en sy vrou, Martie, het reeds vanjaar aan verskeie skoue deelgeneem, onder meer in Rustenburg, Pretoria en Bloemfontein, asook aan die Pluimvee-klubskou in die Vaaldriehoek. Hul hoenders het met elke skou baie goed gevaar en talle toekennings verwerf. Behalwe vir die hoenders het Japie reeds van jonk af ‘n groot verskeidenheid van belangstellings gehad.

Hy het as leerling van die Skool vir Blindes gestoei en was W.P. Kampioen vir sewe jaar en S.A. Kampioen vir twee jaar gedurende sy skoolloopbaan. As Senior het hy verskeie kere provinsale kleure gekry. Daarna het hy stoei by Olympians Jeugklub afgerig. Gedurende die 60ΓÇÖs het hy ook graag Volkspele gespeel tot sy sig dit nie meer toegelaat het nie.

Hy het in die vroe├½ 70ΓÇÖs begin om Wedvlugduiwe te vlieg – het verskeie Wedvlugte gewen gedurende die jare, en was een jaar die Olympians-klubkampioen.

Hy en sy vrou het toe begin belangstel in Sport vir Gestremdes. Hy het Doelbal (spel vir blindes) begin speel saam met twee vriende en hulle het vir 14 jaar saam gespeel.

Verder het hy verskeie medaljes met gewigstoot en diskus verwerf. Martie het Springbokkleure verwerf as Doelbal-skeidsregter.

Japie het ook ‘n baie groot liefde vir perde en het vandat hy en Martie kleinhoewes toe verhuis het gedurende 1987 verskeie perde aangekoop. Hulle het toe ook ‘n klein ryskool begin en het later gestremde en outistiese kinders laat ry.

Hulle het sowat 15 jaar gelede begin met hoenders ΓÇ£boerΓÇ¥ en skou, maar het eers so vyf jaar gelede ernstig begin hoenderskou. “Ons het redelik presteer met die plaaslike en kleiner skoue en het toe verlede jaar die S.A. Kampioenskappe in Pietermaritzburg aangedurf. Ons het daar 13 plekke gekry waarvan ses eerste plekke was,” s├¬ Martie.

Japie en Martie is reeds 38 jaar getroud en baie gelukkig om vele belangstellings te deel!

Nuusbron: Vaalweekblad

* Vir meer inligting oor die Vaaldriehoek Pluimveeklub kontak 082 400 8957.