Tyd nou geskik vir nuwe besighede

VANDERBIJLPARK. – Die bekende Suid-Afrikaanse ekonoom Dawie Roodt van die Efficient Group, gebaseer in Pretoria, het die Vanderbijlpark Sakekamer by die pasafgelope maandvergadering oor geleenthede in die Suid-Afrikaanse ekonomie toegespreek.

Roodt het meer as 20 jaar se ervaring in die politieke omgewing waarvan hy ook nege jaar sy diens as ekonoom by die Suid-Afrikaanse Reserwebank aangebied het.
Tydens die sakekamerbyeenkoms in Vanderbijlpark het hy die wêreldmarkte en Suid-Afrika se rol daarin in ‘n neutedop opgesom.

“Die repokoers is nou die laagste wat dit in 30 jaar was, dit is uiters geskik om nou geld te leen en ‘n besigheid te begin,” het hy aanbeveel.

* ‘n Interessante praatjie is ook by die Sakekamer-byeenkoms deur ‘n internasionaal-erkende entrepreneur, Carl Bates, gelewer.

Hy het die Vanderbijlpark Sakekamer ingelig oor die voordele wat die Sidar Global Group, waarvan hy die stigter en besturende direkteur is, aan sakelui bied.

Die kern van Bates se passievolle toespraak was dat sakelui hulself vir sake in die groter omgewing moet rat en nie in die groef van “kleinsaak-denke” moet vasval nie.

Sy ervaring in die finansiële-arena en lidmaatskap van die Instituut van Direkteure, het aan hom verskeie top-bestuursposisies van private en openbare organisasies besorg.

Bates het sy sukses te danke aan sy opvoeding in ‘n huishouding waarin almal entrepreneurs is.

Bron:  vaalweekblad.com