Die groei in die verkope van nuwe voertuie, soos aangedui deur die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa), het voortgeduur in Junie vanjaar, ten spyte van die feit dat die land se aandag op die 2010 Wêreldbeker Sokkertoernooi gefokus was. Altesame 39 929 voertuie is in Junie vanjaar verkoop, met nagenoeg 90% daarvan wat deur die land se handelaarsnetwerk verkoop is. Die verkoopsyfer in Junie is 20,7% beter as die ooreenkomstige maand in 2009. Toyota Suid-Afrika is steeds die algehele markleier en het 8 224 voertuie in Junie verkoop. Die maatskappy het ook 4 209 Corolla-, Fortuner- en Hilux-modelle na sy afsetpunte in Europa en Afrika versend. Volgens Andrew Kirby, senior vise-president vir verkope en bemarking van Toyota Suid-Afrika, skets Junie se verkoopsyfers ’n positiewe prentjie vir die Suid-Afrikaanse voertuigmark. “Die onverwagte sterk verkoopmaand in Junie het ons genoop om ons vooruitskatting vir die jaar van 460 000 tot 470 000 eenhede aan te pas. Hierdie vooruitskatting neem die moontlike verlangsaming in die derde kwartaal in ag, omdat hierdie kwartaal nie sal baat by die Wêreldbeker-momentum van die pas afgelope kwartaal nie,” meen hy. Altesame 235 698 nuwe voertuie is in die eerste helfte van 2010 verkoop, wat 23,9% beter is as die ooreenstemmende eerste helfte van 2009. In pas hiermee is 106 766 Suid-Afrikaans-vervaardigde voertuie in hierdie helfte na markte regoor die wêreld verskeep, wat 32,7% beter is as in dieselfde tydperk in 2009.