VANDERBIJLPARK – “Daar is ‘n ou apie, ‘n baie, baie slim apie. Hy het groot ogies wat niks miskyk nie en groot oortjies wat na alles luister. Dit is wat hom so slim maak. Sy naam is Ogies”.
En so leer ken mens ‘n nuwe hoofkarakter in die Afrikaanse kinderboek. Die boekie , Ogies, sal binnerkort beskikbaar wees, en wat dit nog meer spesiaal maak, is dat dit die skrywer se eerste boek is – en┬á dit op die ouderdom van tagtig jaar. Hester du Plessis vertel dat sy oor die jare stories opgemaak het vir haar kleinkinders, en hier en daar aantekeninge daarvan gemaak het. “Dit het begin toe ‘n kleinkind my moeg gespeel het, en ek toe van die bekende stories aan hom vertel het. Hy het my egter heeltyd ‘reggehelp’ met die details van die storie, toe besluit ek as ek my eie stories opmaak, sal hy my nie meer so kan ‘uitvang’ nie!” vertel Hester.
‘n Familielid, Johan Venter, het Hester se stories na Engeland geneem waar hy dit saamgestel het, en ‘n uitgewer gevind het. Die uitgewers het dit na Coraluitgewers in Suid-Afrika verwys wat dit aanvaar het, en Ogies sal binnekort op die rakke wees. Dit bestaan uit sewe lekkerlees stories en kleurryke illustrasies wat oorsee gedoen is. Dit is boonop opvoedkundig, en elke storie eindig met ‘n morele lessie. ” Die verhaaltjies is werklik spesiaal en uniek,” s├¬ Hester se trotse dogter Sarie. “In my 38 jaar in die onderwys het ek nog nooit so iets gesien nie.”
Hester was nog nooit bang vir werk nie, en moes op 15 al haar gesin onderhou nadat haar pa breinvliesontsteking opgedoen het. Later was sy ‘n klereverkoopsdame. En vandag staan haar hande steeds vir niks verkeerd nie, en sy is mal oor onder meer blokkiesraaisels en visvang . En natuurlik is die volgende stories op pad…
Nuusbron:┬á (MooiVaal Media – Ster)