Skole rugby oorlog

VANDERBIJLPARK. – Gemeet aan vorm en sy suksesrekord teen die Geel Bulle is die eerste rugbyspan van die Hoër-skool Transvalia die volslae gunsteling om eerskomende Saterdagmiddag in Vanderbijlpark die jaarlikse FNB Classic Clash te wen.

Die rekordboeke spreek boekdele, maar daar word gemaan dat mens nie te veel daarin moet lees nie. Die Tekkies kon in agt probeerslae nog net een keer seëvier, maar volgens altwee spanne se breiers is dit ‘n 50/50-kragmeting.

“Vorige oorwinnings en statistiek beteken niks nie. Dis ‘n nuwe plek, datum en die telbord begin op 0-0. Hulle (HTS Vereeniging) beskik oor ‘n goed geballanseerde span en is ‘n skool met ‘n trotse rugbytradisie. Dié kragmeting is jaarliks kliphard. Ons het baie respek vir hulle. Dis ‘n 50/50-kragmeting,” het Jaco Kok, afrigter van die Hoërskool Transvalia se eerste rugbyspan, gesê.

Die Classic Clash beskik jaarliks oor die vermoë om die beste uit die Geel Bulle te haal. Valia het verlede jaar harde bene gekou om met 26-12 te seëvier. Die wet van gemiddelde is waarskynlik aan hulle kant. Die Tekkies het die afgelope ruk gewys dat hulle oor al die bestanddele beskik om weekliks in uitgelese geselskap wenrugby te speel…. maar die kruitvat het tot nog toe, net nie heeltemal vlamgevat nie. Gebeur dit Saterdag, gaan daar vuurwerke wees.

“Ek is tevrede, ons voorbereiding verloop goed. Ons is op koers met ons doelwitte vir die seisoen. As ‘n eenheid moet ons net beter saamspeel dan sal ons goed vaar. Ons moet die basiese dinge reg doen en goed verdedig. Dit is elke jaar ‘n baie gelykopwedstryd,” het Hannes Grobbelaar, afrigter van die HTS Vereeniging se eerste rugbyspan, gesê.

Volgens die Geel Bulle se tropleier, Eddie Kirby, en sy adjudant Elden Schoeman, het hulle ‘n opbouende spanvergadering gehou om die gebreke in die span se mondering te bespreek.

“Ons spelpatroon en spelpeil is van hoogstaande gehalte. Ons moet net hier en daar aan ons kommunikasie en samespel werk. Elke speler weet wat sy taak op die veld is. Elkeen moet sy deel doen as ons ‘n oorwinning wil behaal. Ons wil 2012 ‘n goeie rugbyjaar maak,” het Kirby, die Geel Bulle se voorryman en kaptein, gesê.

Volgens Kok gaan die wyse waaarop sy span daarin slaag om sy struktuur en spelpatroon af te dwing deurslaggewend wees. “Ons moet die basiese dinge goed doen en nie afwyk van ons struktuur nie. Dissipline en verdediging gaan deurslaggewend wees. Daar is gesonde mede-dinging in die groep. Elke speler besef dat indien hy nie sy deel op die veld bring nie, hy deur ‘n speler wat net so goed indien nie beter is nie, vervang gaan word,” het Kok aan die vooraand van die kragmeting gesê.

Wat diepte betref, spog Valia met ‘n ontsagwekkende plaasvervangerbank. “Ons is bevoorreg om sulke goeie plaasvervangers te hê. Ons tydsberekening om die plaasvervangerbank aan te wend gaan baie belangrik wees,” het Kok gesê.

Volgens Visagie, agsteman en kaptein van Transvalia, is hy vol vertroue dat sy span die kragmeting gaan beklink.

“Indien ons binne ons struktuur speel en ons werksverrigting hoër is as hulle s’n kan ons nie anders om te wen nie. Ons spandeer baie tyd aan ons fiksheid en almal weet wat hulle take binne ons struktuur is,” het Visagie, een van Transvalia se spelbre-kers, gesê.

*Die eerstespan-kragmeting skop Saterdag om 12:30 af.

Bron: vaalweekblad.com