SASOLBURGERS GEMAAN OM DRINKWATER TE KOOK

SASOLBURG – Die Metsimaholo Munisipaliteit het sedert die naweek ‘n waarskuwing aan plaaslike inwoners, veral van Zamdela, Vaalpark en die middedorp van Sasolburg uitgereik om hul kraanwater eers te kook voordat hulle dit drink. Dit volg nadat ‘n waterlekkasie in een van die dorp se opgaardamme ontstaan het. Gino Alberts, woordvoerder van die Metsimaholo Munisipaliteit, sê hulle is tans besig om toetse op die water te doen om te bevestig of die kwaliteit van die water wel beïnvloed is deur die probleem. Alberts sê hulle is nog nie bewus van die oorsaak van die lekkasie nie, maar hulle gaan binnekort met ingenieurs vergader wat hulle gaan bystaan om die reservoir te herstel.

Alberts ontken ten sterkste gerugte van Malaria in die water wat die ronde op sosiale netwerke doen.

Alberts sê daar is geen rede tot paniek nie en die waarskuwing aan inwoners is slegs ‘n voorsorgmaatreël. Daar is sedert Dinsdag tydelike onderbrekings in die watertoevoer sodat daar herstelwerk aan die infrastruktuur kan gedoen word. Net om die lewe nog interessanter te maak vir Sasolburgers het daar Maandagoggend ‘n substasie ontplof in die industriële gebied van Sasolburg wat die dorp in donkerte gedompel het. Die Munisipaliteit het egter die bul by die horings gepak en elektrisiteit was teen laat Maandag-aand weer herstel.

Source: www.vaalweekblad.com