Die romantiese sangpaar Rudi Claase en Corlea Botha is tans ongetwyfeld die gewildste duetpaar in Suid-Afrika – en nie sonder rede nie… Die liefe blom nie net in die “regte” lewe vir diΓÇÜ paartjie nie, maar hul stemme vul mekaar so uitstekend aan dat hulle die liefde werklik op ‘n ongekende manier besing.
Min Vaalweekbladlesers weet dalk dat Rudi oorspronklik ‘n Vaaldriehoeker is, wat hier grootgeword en skoolgegaan het.
Hy het reeds op die ouderdom van vier jaar begin klavierspeel en van 12-jarige ouderdom af begin sing. Hoewel hy ‘n kranige klavierspeler is, is dit eintlik sy talent om liedjies te skryf wat hom aanvanklik op die hoogste sport van die musiekbedryf laat stelling inneem het.
Rudi het reeds meer as 4 500 liedjies vir van ons land se topsangers geskryf. Verlede jaar het hy die Tempo-toekening gekry vir die lied wat hy vir Juanita du Plessis geskryf het, Tussen Woorde, wat haar verkope verby dubbelplatinum gestoot het.
Net soos Rudi, was musiek en sang reeds van geboorte af in Corlea se bloed. Sy het op vyfjarige ouderdom reeds begin sing. Sedert hulle ‘n paar jaar gelede as sangpaar begin optree het, is daar net geen keer aan hul sukses nie. Die verkope van hul twee CD’s is reeds verby dubbelplatinum.
Rudi en Corlea het vanjaar met twee Tempo-toekennings weggestap en is ook genomineer vir twee toekenings van Rapport se Vonk.
Hul nuwe CD word November versprei en die DVD word einde vandeesmaand beskikbaar gestel.
Hulle nuwe program propvol nuwe liedjies word op 27 September in die Vereenigingse Stadskouburg aangebied. Dit beloof om ‘n vertoning te wees wat niemand mag misloop nie. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.
As in aanmerking geneem word dat Rudi en Corlea volbespreek is tot Mei aanstaande jaar, gaan dit voorwaar vir plaaslike musiekliefhebbers ‘n voorreg wees om hulle op 27 September te sien optree. Die tweestuks gaan later volgende jaar na Europa vir optredes daar.
Twee gelukkige Vaalweekblad-lesers kan dubbelkaartjies na hul vertoning op 27 September wen. SMS net die datum wanneer Rudi en Corlea in Vereeniging optree, sowel as jou naam en van na 41913. SMS’e kos R1-50.
Nuusbron: Mooivaal Media – Vaalweekblad