‘n Jaar gelede het almal half ongelowig geglimlag oor die Vanderbijlpark Rotariërs se ongewone oogmerk om die langste wasgoedlyn met die meeste skoolhempies ooit, in die Vaalrivier voor Stonehaven te span. Nêrens ter wêreld is so ‘n grootse poging nog ooit aangepak nie.
Maar net soos met vorige Rotariër-projekte wat oënskynlik onuitvoerbaar geklink het, het hulle dit hierdie keer wéér soos doelgerigte rooimiere deurgevoer met die hulp van Unilever, plaaslike sakelui en die gemeenskap. Daarvan getuig die wêreldrekord wat Saterdag behaal is.
Die geldwaarde van die tegniese kennis, die harde werk, die man-ure en die materiaal wat in dié projek ingegaan het, is onbekend en waarskynlik onmoontlik om ten volle te bereken. Waarvan ‘n mens wel seker kan wees, is dat die buitewêreld deeglik kennis geneem het van besorgde Vaaldriehoekers se erns en passie oor die bewaring van ons pragtige Vaalrivier.
Dié omvangryke projek, wat in ‘n relatief kort tyd uitgevoer is, laat ‘n mens ook weer besef oor hoeveel kosbare tegnologiese kennis ons gebied beskik.
Die geesdrif waarmee ingenieurs soos Jannie Bosman, ander kundiges, plaaslike sakeondernemings en die Vaaldriehoek se inwoners in geheel die projek ondersteun het, onderstreep die feit dat ons mense kan en wil saamstaan wanneer hulle ‘n gesamentlike doelwit het.
Hoewel dit moeilik is om individue uit te sonder vir hul aandeel, kan ‘n mens nie anders as om Rex en Rosemary Anderson van Stonehaven te prys vir hul agter-die-skerms bydraes nie.
Hulle het van die beplanningsfase af ingekoop en geen moeite ontsien om die projek te maak werk nie.
Die suksesvolle afhandeling van die wêreldrekordpoging beklemtoon die feit dat ons gebied steeds bekwame, slim mense met groot harte het: mense wat in tye van voorspoed en teëspoed sal kan saamstaan, planmaak en sukses behaal.
Ons gebied se natuurskoon, ons ekonomie en ons toekoms sal veilig wees as Vaaldriehoekers op alle terreine só kan saamstaan en saamwerk.
Vaalweekblad se opregte dank en gelukwense aan elkeen wat op sy of haar manier bygedra het om dié projek te laat slaag.
Julle het ons opnuut trots gemaak om Vaaldriehoekers te wees!
Source: vaalweekblad.com