VANDERBIJLPARK. – Wie het ooit gedink dat ‘n oud-leerling uit ons geweste soveel talent kan oplewer dat hy tans die land se beste sanger is en aangewys is as ons land se nuwe “SA’s Got Talent”-wenner met ‘n prysgeld van R250 000.
Juan Appelgrein (16), oud-leerling van die Laerskool Emfulenipark, is op 17 Oktober aangewys as die “SA Got Talent” se landwye wenner.
Juan, of soos hy op televisie verskyn het onder die naam Johnny Apple, het skoonskip gemaak onder die duisende inskrywings.
SA’s Got Talent is die eerste nasionale kompetisie waaraan hy deelgeneem het.
Die eerste oudisies en uitdunne het Junie begin. Hy het in Johannesburg by die Alexander-teater sy eerste oudisie gedoen.
Sowat 6 000 deelnemers het daaraan deelgeneem.
Juan is ‘n graad 10-leerling aan die Kingsley privaat skool in George, waarheen hulle verhuis het.
Volgens Juan is hy huidiglik kontraktueel verbind aan die platemaatskappy Sony met sy oorwinning in SA’s Got Talent.
Hy het baie goeie blootstelling ontvang en gevolglik wil verskeie maatskappye met hom onderhandel rakende sy toekomsplanne. Juan het sy ma R100000 van sy R250 000 wengeld belowe, en sê hy gaan die belofte eerste nakom. Hy gaan ook ‘n gedeelte aan klere bestee maar die meeste van die geld gebruik of belê om sy toekomstige musiek-loopbaan verder te vat. Juan sê sy groot droom was nog altyd om baie mense te kan vermaak en met die blootstelling wat hy kry, is dit moontlik gemaak en voel dit of hy sy droom begin leef.
Source: Vaalweekblad.com