Oogoperasie gee seun beter gehalte lewe

SASOLBURG. – Hy is nou gelukkig omdat hy beter kan sien, nie permanent ‘n bril moet dra nie én omdat sy ogies nou net soos sy  maats se ogies lyk. Danksy ‘n oogoperasie van die Ocumed Oog- en Laser Instituut in Vanderbijlpark geniet Armond, ‘n kind van die Sasolburg Jeugsorgsentrum, nou ‘n baie beter kwaliteit lewe.

“Die spiertjies in sy oog was nie reg nie en dit het onder meer sy sig beinvloed. Na die operasie gebruik hy net ‘n leesbril,” sê mev. Ansie Venter, bemarker van die Jeugsorgsentrums. (Armond se van mag om etiese redes nie gepubliseer word nie).
Armond het onlangs ‘n suksesvolle strabisme-operasie by die Ocumed Oog- en Laser Instituut in Vanderbijlpark ondergaan. Die operasie was ‘n groot sukses. “Die bestuur van die Sasolburg Jeugsorgsentrum en Armond wil hiermee graag hul dank teenoor dr. Johan de Lange, sy personeel en die personeel van Ocumed betuig vir die vriendelike en voortreflike diens wat hulle by Ocumed ervaar het. Dit is ‘n voorreg om by so ‘n netjiese en wêreldgehalte ooghospitaal behandel te kon word, en dit in Vanderbijlpark,” sê Venter.
Enigiemand wat by die Jeugsorgsentrum betrokke wil raak, kan Venter kontak by 082 748 8954.

Nuusbron: Mooivaal Media – Vaalweekblad