NWU VERRAS TUT

VANDERBIJLPARK. – Die NWU Vaal Rugbyklub het Saterdag in Pretoria ondanks wisselende welslae die vrugte van ‘n produktiewe voorseisoense oefenprogram begin pluk.

Hoewel die studenteklub se o/21 span teen TUT se Varsity Cup Young Guns met 27-19 die onderspit gedelf het, het die span se afrigters, Walvis Swanepoel en Poena van Dyk, kans gekry om hulle hele spelerskorps in wedstrydverband speeltyd te gee.

Kombinasies is beproef en hoewel die hantering digby die doellyn gelol het, is daar ‘n rits positiewes wat die span uit die nederlaag kan put.

Die span het baie gebiedvoordeel geniet, maar gelukkig kan haakplekke soos afronding en hantering vinnig uitgestryk word.

Die groot geelwortel wat voor NWU Vaal se spelers se neuse gehang het, was om die finale groep wat op 31 Maart aangekondig word te haal en verskeie spelers het hulle hande hoog opgesteek in hulle puik oorwinning met 47-23 oor TUT se Varsity Cup span.

NWU se vaste skrums was rotsvas en van dié grondslag het die agterlyn baljaar. NWU het sewe drieë gedruk en slegs drie afgestaan.

Die NWU-skrumskakel, Johan van Rooyen, het met sy driekuns aan drieë gewys dat daar groot dinge vanjaar vir hom voorlê. Die ander drieë is deur Ettiene Swane-poel, A.J. Fritz, Eon Peens en Danie Malan gedruk.
Nwu Vaal speel eerskomende naweek weg teen Tukkies en 3 Maart tuis teen Alberton.
Bron: vaalweekblad.com