NWU laat die syfers mooi klop

VANDERBIJLPARK. – Noordwes-Universiteit (NWU) se voornemende rekenmeesters laat die syfers mooi klop!

Met inagneming van die getal studente en die slaagsyfer van 88%, het die pas afgestudeerde geoktrooieerde rekenmeesterstudente van die NWU in 2012 beter as ooit tevore gevaar in die Deel 1-nasionale kwalifiserende eksamen van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR).

Dié slaagsyfer was heelwat hoër as die land se gemiddeld van 78%. In ‘n vraag oor Finansiële Bestuur en Bestuursrekeningkunde het die NWU se studente die beste in die land gevaar.

Daarmee het hulle voortgebou op die prestasies van vorige NWU-studente wat in die verlede reeds verskeie kere in verskillende vakke die beste in Suid-Afrika was.

Die uitslae plaas die NWU in totaal sesde in die land, met die Universiteit van Kaapstad, Rhodes, die Universiteit van Pretoria, Wits en die Universiteit van Stellenbosch in die eerste vyf plekke.
Ses-en-vyftig NWU-studente uit ‘n totaal van 64 – die meeste ooit in die geskiedenis van die NWU – het geslaag.

Van dié wat geslaag het, is 10 van die Vaaldriehoekkampus en 46 van die Potchefstroomkampus. Prof. Herman van der Merwe, die dekaan van die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie aan die Vaaldriehoekkampus, is om verstaanbare redes breëbors oor sy fakulteit se studente. “Ons is trots om deel te kan wees van die NWU-span en dat die getal geoktrooieerde rekenmeesters wat die NWU lewer, jaarliks verhoog,” sê hy.

“Gesien in die lig van die behoeftes van die land en ook om relevant te bly, is dit belangrik dat ons ‘n groot groep geoktrooieerde rekenmeesters moet lewer,” sê prof. Susan Visser, die direkteur van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe aan die Potchefstroomkampus.

Prof. Heleen Janse van Vuuren, die direkteur van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe aan die Vaaldriehoekkampus, sê die meeste van die huidige B.Com. GR-honneursgroep het reeds kontrakte geteken om volgende jaar met hul klerkskap te begin. “Ná hul klerkskap word die meeste opgeraap deur kliënte by wie hulle ouditwerk gedoen het,” sê sy.

Bron: vaalweekblad.com