NWU en VUT weer bes bestuurde universiteite

VANDERBIJLPARK. – Die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT) het pas opnuut erkenning gekry vir hul verbintenis tot die handhawing van doeltreffende bestuur en korporatiewe bestuurspraktyke.

Die NWU slaag reeds vier agtereenvolgende jare daarin om ‘n eerste plek te behaal in PricewaterhouseCoopers se korporatiewebestuurstoekenning vir uitnemendheid in Ho├½r Onderrig. Vanjaar deel die NWU die toekenning met VUT. Die toekennings is by die pasafgelope jaarlikse konferensie oor Ho├½r Onderwys wat in Port Elizabeth plaasgevind het, gemaak.
In 2007 het die NWU die eerste prys gedeel, en in 2008 en 2009 was die NWU die alleenwenner. In 2010 is die NWU weer, saam met die Vaal Universiteit van Tegnologie, aangewys as die bes bestuurde universiteite in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyslandskap.
Die kompetisie vind jaarliks plaas om hoëronderwysinstansies aan te moedig om hoë standaarde vir korporatiewe bestuur na te streef en aan die vereistes van die King III-verslag oor Korporatiewe Bestuur in Suid-Afrika te voldoen.
Hierdie verslag benadruk sewe beginsels van goeie korporatiewe bestuur, naamlik dissipline, deursigtigheid, onafhanklikheid, aanspreeklikheid, verantwoordelikheid, regverdigheid en maatskaplike verantwoordelikheid.

┬áNuusbron: Mooivaal Media – Vaalweekblad