NUWE HOOF VIR LAERSKOOL DR. VERWOERD

MEYERTON. – Mnr. Attie Swart (51) is onlangs as nuwe hoof van die Laerskool Dr. Verwoerd aangestel. Hy volg mnr. Chris Meyer (60) op wat aan die einde van verlede jaar die tuig neergelê het.

Hy is getroud met mev. Cathrien Swart (49). Hulle het twee seuns, Andrè (23) en Louis (19), en woon al vir die afgelope 27 jaar in Vanderbijlpark.
Mnr. Swart het sy onderwysgraad en -diploma onderskeidelik aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) en die Potchefstroom Onderwyskollege verwerf. Sy spesialis vakgebiede is wiskunde en natuur- en skeikunde.

Hy het gedurende Januarie 1984 sy onderwysloopbaan aan die Laerskool Hendrik van der Bijl in Vanderbijlpark begin. Vanaf Julie 1994 is hy as departementshoof by die Laerskool Suikerbos in Vereeniging aangestel. Vanaf Julie 2000 was hy adjunkhoof van Vaalpark Primêre skool in Sasolburg.

As adjunkhoof het hy ‘n groot bydrae gelewer om Vaalpark Primêre Skool tot een van die top laerskole in die Vrystaat te ontwikkel op sowel akademiese- as sportgebied.

Sy doelwit vir die Laerskool Dr. Verwoerd is eenvoudig: Ons gaan almal buite ons gemaksone funksioneer omdat Laerskool Dr. Verwoerd die top laerskool in die Sedibeng-distrik sal word. Ons sien met groot verwagting uit na ‘n opwindende 2012,” sê hy.
Bron:  vaalweekblad.com