Middelklas-esel se rug gaan knak

Die Onderwysdepartement se opdrag aan verskeie Vaaldriehoekse skole wat reeds vol is, om volgende jaar plek te maak vir kinders wat nie uit hul voedingsgebied kom nie (lees minderbevoorregte kinders wat nie skoolfonds sal kan bydra nie) maak opslae.
Die departement se tydsberekening is verdag. Waarom is die nuus enkele dae voor die vakansie eers aan die hoofde oorgedra? Hoop die departement om konflik te vermy deur die onderwyskorps eers op vakansie te stuur om te gaan afkoel voordat hulle in die nuwe jaar moet rondval en planmaak uit dié chaotiese situasie uit?

In die vroeë 1990’s, kort na sy vrylating, het oud-president Nelson Mandela die skoolopleiding wat swart mense in die Apartheidsjare gekry het, as minderwaardig en ‘n misdaad teen Suid-Afrika se jeug bestempel. Nou, aan die vooraand van 2012, kan ‘n mens terugkyk en vra: hoe het sake in die afgelope twee dekades verander? Die antwoord is dat die opleiding wat tans in meeste staatskole aangebied word, steeds minderwaardig is, met die verskil dat nie net ‘n gedeelte van die jeug nie, maar  álle kinders nou daardeur geraak word.

In ‘n poging om standaarde hoog te hou, betaal ouers van leerlinge by voormalige model C-skole ekstra skoolfonds om bykomende onderwysers op eie koste in te huur. Vir sulke ouers wat reeds ekstra betaal, beteken die akkommodering van nóg kinders uit minder gegoede gebiede dat hulle nou selfs meer sal moet betaal om die nuwelinge te subsidieer. Beheerliggame se magte om ‘n hoë opvoedingspeil in ‘n chaotiese stelsel te probeer handhaaf, word nou verder ingekort.
Op die oog af kan dit maklik lyk na rassediskriminasie; asof die skole kapsie maak omdat die bykomende leerlinge nie wit of nie Afrikaanssprekend is nie. Dit is egter nie die geval nie. Die hartseer van die huidige situasie is dat etniese politiek van die Apartheidsjare nou plek gemaak het vir ‘n klassestelsel.

Aan die een kant is daar ‘n groeiende getal verarmde swart, wit en bruin mense met min voorregte omdat hulle min geld het. Aan die ander kant is daar ‘n relatief klein swart, wit, bruin en Indiërgroep wat ‘n middelklas vorm en duur betaal om die groeiende groep minderbevoorregtes te subsidieer.

Die regering besef óf nie dat die middelklas besig is om dood te bloei nie, óf dis ‘n doelgerigte poging om die middelklas te ontmagtig en ons skoolopleiding verder te verlam. Dis na alles makliker vir ‘n klein groepie bevoorregtes in die regering om in beheer te bly van verarmde, magtelose burgers met min potensiaal om vir opstand te mobiliseer. Dis tyd dat middelklasmense – die altyd gewillige pak-esels – sê NEE, ons word nie verder geboelie nie! Die esel se rug én geduld is by breekpunt.
Bron:  Vaalweekblad.com