VANDERBIJLPARK. – ‘n Geliefde inwoner van die Vaaldriehoek, mnr. Eddie Breytenbach (65), is verlede week na ‘n kort siekbed in die hospitaal oorlede. Hy was veral bekend onder hoërskoolkinders vir die ekstra wiskundeklasse wat hy die afgelope jare aangebied het.
Volgens sy dogter, me. Christa Breytenbach, het haar pa na voltooiing van sy skoolloopbaan by die SA Spoorweë begin werk voordat hy in 1965 ‘n pos by die destydse Yskor aanvaar het.
“Hy het begin as lynoperateur en het hom opgewerk tot voorman by die temperwals in die Noordwerke. Na 35 jaar diens het Pa afgetree en tyd saam met ons spandeer,” sê Christa. Haar ma, Hannetjie, was ‘n verpleegster voordat sy later by Bedworthpark Pick n Pay begin werk het. Sy is reeds in 2007 oorlede.
“Ons het soveel om voor dankbaar te wees. My broer Herman en ek het die wonderlikste ouers gehad, maar vir ‘n te kort tydperk. Pappa was die beste pa ooit en gaan vreeslik gemis word, nie net deur my en Boeta nie maar deur soveel mense en kinders wie se lewens hy aangeraak het,” sê Christa, wat tuisonderrig vir skoolkinders aanbied.
‘n Groep van die leerlinge het Vrydag na afloop van wyle mnr. Breytenbach se begrafnisdiens in die NG Wes-gemeente, hartroerend hulde gebring aan hul “Oom Eddie”, wat duidelik getoon het dat hy nie net hul leermeester was nie, maar ook hul vriend en vertroueling.
Christa bedank graag al die familie, vriende en leerlinge vir hul onderskraging gedurende sy siekte en afsterwe
Bron: vaalweekblad.com