LANGERAAD PEPSI STIK EN STERF

SASOLBURG. – Verstikking was moontlik die oorsaak van die jong kameelperdbul, Pepsi, se onverwagse dood die afgelope naweek in Sasol se wildkamp langs Vaalpark.

Mnr. Henk Scheepers, ‘n bekende prokureur van Vanderbijlpark wat naweke gereeld saam met sy vrou Louisa foto’s van diere by Ekopark gaan neem, sê hulle het Saterdag dadelik met hul aankoms gesien iets is fout met Pepsi.

Hulle het die personeel wat na die diere omsien, gevra om te kom kyk, maar Pepsi is kort daarna dood.

Volgens mnr. Japie Strydom, ‘n bekende wildbewaarder van die omgewing wat kontraktueel na die diere in Sasol se wildkampe omsien, sê ‘n veearts wat Pepsi agterna ondersoek het, meen hy het hom waarskynlik in ‘n te kort tyd ooreet. ‘n Kameelperd kan glo nie winde opbreek of braak nie, wat kon veroorsaak het dat hy aan sy kos verwurg en versmoor het, sê Japie.

Pepsi was sowat sewe jaar oud en was ‘n “adolessent” in kameelperdjare. Na verwagting sou hy en die kameelperdkoei, Cola, so oor ‘n jaar of twee kon begin paar het.

“Tot dusver het hulle nog net ‘n bietjie met mekaar ‘gespeel’ maar Cola sal eers oor so twee jaar dragtig kan raak,” sê hy.

Pepsi se oorskot is reeds in die Ekopark begrawe. Dit is nog onbekend of Cola ’n nuwe kameelperdbul gaan kry,.

“Indien wel sal hy seker ‘Klippies’ genoem word – Klippies en Cola pleks van Pepsi en Cola,” sê Japie.

Source: vaalweekblad.com