Nuusberigte uit ander dele van die land het die afgelope weke die skokkende samedromming van studente by universiteite soos dié in Johannesburg, Pretoria en Natal getoon. In meeste gevalle het tussen 30 000 en 60 000 studente toegang probeer kry tot dié universiteite, wat elk maar tussen
5 000 en 13 000 nuwe studente kon akkommodeer.
Ook by ons Vaaldriehoekse tersiêre opleidingsinstansies moes talle hoopvolles teleurgesteld omdraai omdat ruimte beperk is. Wat word nou van die derduisende voornemende studente wat onsuksesvol huis toe moes gaan?
Volgens dr. Felicity Coughlan, direkteur van die Onafhanklike Instituut van Onderwys, is alles darem nie vir hulle verlore nie omdat daar uitstekende alternatiewe opleidingsmoontlikhede in die private sektor is. Uit ondervinding weet Vaalweekblad egter al dat daar ook op dié gebied ‘n hele paar slaggate kan opduik wat studente en hul ouers duur te staan kan kom as hulle hul huiswerk nie deeglik doen voordat hulle by ‘n private instansie inskryf nie.
Te veel terugvoer is al ontvang van studente (of hul ouers) wat buitensporige bedrae aan ongeregistreerde instansies betaal het vir “kwalifikasies” wat uiteindelik betekenisloos was omdat dit nie aan die standaard voldoen nie of gewoon nie in die werksplek erken word nie.
Sommige opportunistiese instansies was die afgelope jare ook in die nuus nadat hulle uit-en-uit bedrog gepleeg het deur vals registrasienommers aan voornemende studente en hul ouers te toon. Volg dus dr. Coughlan se raad en maak seker dat die private instansie van jou keuse bo verdenking is, en amptelik by die regte owerhede geregistreer en geakkrediteer is.
Danksy die internet is dit deesdae maklik om jou eie ondersoekwerk te doen. Private opleidingsinstansies is aan dieselde kwaliteitvereistes onderhewig as openbare instansies. Alle opleidingsinstitute moet by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding geregistreer wees. Gaan loer dus op webtuistes soos dié van SAQA en NQF. As jou keuse van opleidingsinstansie nie daar is nie, het jy die reg om vrae te vra.
Besoek ook die webwerf van die Onafhanklike Instituut vir Opleiding (in Engels: Independent Institute of Education) en kry ‘n ingeligte mening as jy twyfel.
Bron: vaalweekblad.com