Krieketmanne loop hulle rieme styf

Eduard Swanepoel van die Gauteng Platteland-krieketspan – wat uitsluitlik uit spelers vanuit die Vaaldriehoek bestaan – se paaltjies word herrangskik in sy span se kragmeting teen Noordwes. Gauteng is die verdedigende nasionale plattelandse kampioen.

VEREENIGING. – Swak houe-keuses en ‘n hardnekkige sterkant-vennootskap.
Dit was Saterdag in Vereeniging op Dick Fourie-stadion die vernaamste oorsake van die Gauteng-platteland krieketspan se nederlaag met twee paaltjies teen Noordwes.
Gauteng – wat uitsluitlik uit spelers vanuit die Vaaldriehoek bestaan- het die loot gewen en besluit om eerste te kolf op ‘n kolfblad wat weinig hulp aan die besoekers se boulaanval verleen het.
Die tuisspan het gesukkel om vennootskappe aanmekaar te timmer en is uiteindelik vir ‘n beskeie 190 lopies uitgeknikker. Slegs Soldier Nhlapo (25), Brian Ndimande (35) en Dries Nell (26) kon dubbelsyfers haal.
Noordwes was na ‘n goeie begin op 131/8 in die knyp en ‘n Gauteng-oorwinning het na ‘n uitgemaakte saak gelyk.
Noordwes se stertkantkolwers het vasgeskop en met ‘n mengsel van geluk en goeie houespel die agterstand uitgewis en hulle span tot ‘n skok-oorwinning gelei.
Jaco O’Kelly (drie paaltjies), Brian Ndimande (twee paaltjies) en S.W. Smit (twee paaltjies) het puik geboul en so amper die kastaiings uit die vuur gekrap, maar verbroude kanse het uiteindelik die verskil tussen wen en verloor beteken.
“Die nederlaag was onnodig. Die span is tot beter in staat. Daar sal hard aan die pro-bleemgebiede gewerk word,” het Joe Viljoen, die spanbestuurder van Gauteng-platteland gesê. Ondanks dié nederlaag is die verdedigende kampioen steeds gesamentlik met Grens in die eerste plek op die punteleer. Gauteng speel van 17 tot 21 Februarie in Transkei vyf wedstryde teen onder meer Boland- Oos, Grens, OP, Boland Wes en Kei.
*NWU Pukke is die afgelope naweek as die Noordwes Premier A 50-beurt klubkampioene aangewys. Die 65-beurt kompetisie begin die eerskomende naweek. NWU Vaal het sewende geëindig. NWU Vaal het Potch Dorp II in hulle laaste ligabepaling met 3 paaltjies geklop. Potch het danksy Mike Fielding (94) 202/10 in 45.1 beurte aangeteken. Vir NWU Vaal het Bennie Ferreira (4/30) en Danie Erasmus (4/30) onder die paaltjies gemaai. NWU het daarna diep gedelf om 208/7 in 48.4 beurte aan te teken vir ‘n oorwinning. Erasmus (38) was die voorste lopievraat.
Bron:  vaalweekblad.com