KLEIN MEISIE MAAK GROOT VERSKIL

VEREENIGING. – Die pragtige jong Anke Bezuidenhout (9) van Laerskool Unitaspark het ‘n groot verskil in haar skool gemaak nadat sy kinders wat ‘n behoefte aan brille het, gehelp het.

Anke is onlangs gekies as een van die tien finaliste vir Mej. SA Skole in die afdeling graad 1 tot 4. Elke finalis het die taak gekry om ‘n projek by hul skool te loods om ‘n verskil te maak. Die skoolhoof, mnr. Gerald Blignault, het gesê dat daar ‘n groot tekort aan brille vir die behoeftige kinders is.

Anke het borge gekry en elf kinders by Laerskool Unitaspark spog nou met splinternuwe “ogies”. September is ook Nasionale Leesmaand en Anke het dit goed gedink om storieboeke aan dié skool se mediasentrum te skenk. “Dit is nie net ‘n modelkompetisie nie, maar ook die geleentheid vir kinders om te leer dat daar ander is wat nie so bevoorreg is nie en dat hulle moet dankbaar wees vir wat hulle het,” sê Anke se ma, Susan. Susan en Rudi (Anke se pa) borrel behoorlik oor van trots op hul prag-dogter.

Die wenners van Mej. SA Skole sal tydens ‘n spoggeleentheid op 12 Oktober aangekondig word. Anke is ‘n graad 3-leerling wat beslis ‘n groot verskil in haar skool gemaak het. Spesiale dank aan die oogkundiges, Thariza van Rensburg, Diane Schoeman, Sonja Bresler en Spec Savers, Drie Riviere, wat dit moontlik gemaak het.

Source: Vaalweekblad.com