Hart lyer maak hart oop vir oues

VANDERBIJLPARK. – Tien jaar gelede het Vaalweekblad berig oor Michelle Hartmann, toe ‘n babatjie, wat ‘n dringende hartoperasie moes ondergaan.

Michelle, vandag ‘n graad 6-leerling van die Laerskool Emfulenipark, het verlede jaar weer ‘n opehart-operasie ondergaan, maar ongelukkig het haar liggaam die beesklep wat sy toe gekry het, verwerp. Sy het onlangs weer ‘n operasie ondergaan waar hulle vanaf haar lieste met die hoofslagaar opgegaan het tot in die hart om die vernouings in die are oop te druk met ‘n soort ballonnetjie.

Sy sal die prosdure weer moet ondergaan voordat sy oor twee jaar nog ‘n opehart-operasie moet ondergaan. Michelle het egter vanjaar haar eie probleme op die agtergrond geskuif en haar spaargeld gebruik om satynsakkies, koekies en hartjiesjokolades te koop. Sy en haar suster het ‘n paar vriendinne bymekaargemaak en saam-saam het hulle pakkies opgemaak vir al die inwoners van die Siësta-ouetehuis. Op Moedersdag, 13 Mei, net na middagete, het hulle vir al die tannies die pakkies gaan gee.

“Ek is regtig baie trots op haar om hierdie spesiale dag vir die ou mense die moeite werd te maak, veral die wat geen familie gehad het wat kom kuier het nie, en dat sy sterk is en haar eie probleme op die agtergrond geskuif het,” sê Michelle se ma, Daleen.

Bron:  vaalweekblad.com